Sunday, September 16, 2012

Wat kan alles as "Afgode" geklassifiseer word?


Volgens onderstaande opsomming uit die skrif, kan die volgende gese word oor afgode:
-  Afgode word nie net geklassifiseer as *  "gegote of gesnede beelde" nie, maar die volgende word ook gekenmerk as "afgode":
*  hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid
en  *  die navolg van menslike wette 

---------------------------------------------------------------------------
(Exo 20:3)  "Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie.
(Exo 20:4)  Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die hemel is, of van wat onder op die aarde is, of van wat in die waters onder die aarde is nie.
(Exo 20:5)  Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, die HERE jou God, is ‘n jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat"

(Hand. 15:19)  "Daarom oordeel ek dat ons die wat uit die heidene hulle tot God bekeer, nie moet bemoeilik nie,
(Hand. 15:20)  maar aan hulle skrywe dat hulle hul moet onthou van die dinge wat deur die afgode besoedel is en van hoerery en van wat verwurg is en van bloed".

(1Kron. 16:26)  ""Want al die gode van die volke is afgode, maar die HERE het die hemele gemaak.

(Jer 10:14)  "Elke mens word dom, sonder kennis; elke goudsmid staan beskaamd deur die gesnede beeld; want sy gegote beeld is ‘n leuen, en daar is geen gees in hulle nie".

(1Jn 5:21)  "My kinders, bewaar julleself van die afgode. Amen".

(Deu 27:15)  "Vervloek is die man wat ‘n gesnede of gegote beeld maak, ‘n gruwel vir die HERE, werk van ‘n ambagsman se hande, en dit in die geheim opstel; en die hele volk moet antwoord en sê: Amen".


(Hand. 17:16)  "En terwyl Paulus in Athéne vir hulle wag, het sy gees in hom opstandig geword toe hy sien dat die stad vol afgodsbeelde was".
Paulus se reaksie uit bogenoemde gedeelte is heelwat anders as die van meeste Christene in vandag se lewe rondom die aanbidding van ander gode.  Die mens is gekondisioneer om te dink dat dit selfsugtig is om "hul geloof op iemand anders af te dwing" - alle gelowe word bemoedig om met mekaar in vrede saam te lewe en mekaar 'n plek te gun in die wêreld.  Selfs baie "Christene" stem saam met hierdie sienswyse.  Nie alle Christene vandag voel soos Paulus in bogenoemde skrifgedeelte, opstandig in hulle gees wanneer hulle afgodsbeelde aanskou nie.  Duidelik mis baie Christene hulle roeping: -(Mat 28:19)  "Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het".  Dit laat mens wonder of sekere mense wat hulleself Christene noem, ooit wel tot bekering gekom het en of hulle werklik die enigste waaragtige God van die heelal leer ken het!?
(1Kron. 16:24-31)-  "Vertel onder die nasies sy eer, onder al die volke sy wonders.Want die HERE is groot en baie lofwaardig, en Hy is gedug bo al die gode.Want al die gode van die volke is afgode, maar die HERE het die hemele gemaak. Majesteit en heerlikheid is voor sy aangesig, sterkte en blydskap is in sy woonplek. Gee aan die HERE, o geslagte van die volke, gee aan die HERE eer en sterkte.Gee aan die HERE die eer van sy Naam, bring offers en kom voor sy aangesig, aanbid die HERE in heilige gewaad.Beef voor sy aangesig, o ganse aarde! Ook staan die wêreld vas, sodat dit nie wankel nie. Laat die hemele bly wees en die aarde juig, en laat hulle onder die volke sê: Die HERE is Koning!"

"Afgodediens" sluit nie net die aanbidding van "beelde" in nie, maar verskeie sondes word in die skrif vergelyk met "afgodediens".
(Kol. 3:5)-  "Maak dood dan julle lede wat op die aarde is, naamlik hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid, wat afgodediens is"


Terwyl die Israeliete in die woestyn vertoef het oppad na die beloofde land, Kanaän, nadat God hulle wonderbaarlik uit Egipte uitgelei het en talle wonderwerke vir hulle gedoen het - nadat hulle God eerstehans ervaar het - lees ons dat hulle, toe hulle ongeduldig raak toe Moses te lank wegbly op die berg met God, vir hulle 'n goue kalf gemaak het !  Wat het hulle besiel?!  Dit wys duidelik op hulle hartstoestand op daardie oomblik.  Die aanbidding van gode, het te doen met hulle TEKORT AAN VERTROUE en BEGEERTE NA SONDE.  Dit was altyd in tye van afvalligheid wat die volk na afgode gedraai het.  Dit wys op die mens se hart, dat hy nie na 'n God soek aan wie hy moet onderdanig wees nie, maar hy wil liewer vir homself 'n geloof skep waar die mens in beheer is en nie God nie.  Sodoende kan hy doen wat hy wil en dit deur "werke" probeer regverdig of geloof verdien.  
(Fil. 3:18,19)-  "Want baie—van wie ek julle dit dikwels gesê het en nou ook onder trane sê—wandel as vyande van die kruis van Christus. Hulle einde is die verderf, hulle god is die buik en hulle eer is in hulle skande; hulle bedink aardse dinge".


Kol. 3:5 maak nou veel meer sin.  Die aanhoudende, opsetlike sondes word gesien soos afgodediens.

Afgodediens wys op die hardkoppigheid van die mens - sy onwilligheid om homself ondergeskik te stel aan God en wys daarop dat iemand liewer vir homself 'n "geloof" te skep waar hy in beheer is - daarom word soveel sondes vandag onder die naam van geloof geregverdig - dit gaan nie meer oor "wat die waarheid is nie", maar oor "hoe die mens dit sien" - dit is in der waarheid 'n vorm van afgodediens (m.a.w. die navolg van menslike gebooie).
(Gal 4:4)  Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ‘n vrou, gebore onder die wet,
(Gal 4:5)  om die wat onder die wet was, los te koop, sodat ons die aanneming tot kinders kan ontvang.
(Gal 4:6)  En omdat julle kinders is, het God die Gees van sy Seun in julle harte uitgestuur, en Hy roep: Abba, Vader!
(Gal 4:7)  Daarom is jy nie meer dienskneg nie, maar kind; en as jy kind is, dan ook erfgenaam van God deur Christus.
(Gal 4:8)  Maar destyds, toe julle God nie geken het nie, het julle dié gedien wat van nature geen gode is nie;
(Gal 4:9)  maar nou dat julle God ken, of liewer deur God geken is, hoe keer julle weer terug tot die swakke en armoedige eerste beginsels wat julle weer van voor af aan wil dien?
(Gal 4:10)  Julle neem dae en en maande en tye en jare waar.
(Gal 4:11)  Ek vrees vir julle dat ek miskien tevergeefs aan julle gearbei het.
Die navolg van menslike gebooie kan dus ook gesien word as "afgodediens"!
"hoe keer julle dan terug na die eerste....beginsels..."  -  (na die wet) ?!  V. 8 - as hulle God dan nou ken, hoekom wil hulle weer wees soos destyds toe hulle afgode aanbid het?

  Dit is vir mense makliker om 'n paar wette na te kom om hulself te regverdig, as om in der waarheid regtig GEHOORSAAM te wees - mense word deur die samelewing gekondisioneer om sekere beginsels na te kom.  Deesdae word daar bv. baie aandag gegee aan "wat ons eet", "hoeveel oefeninge ons doen", "hoeveel geleerdheid jy het", ens.  Selfs in die kerk is daar soveel mensgemaakte "wette" en Christene word in baie kerke beheer deur kerkleiers wat geensins onderdanig is aan die Here nie. Christene word  gekondisioneer om te dink dat hulle 'n kaartjie hemel toe het omdat hulle die "wette" nakom.  Min Christene soek regtig na die wil van God en begeer Hom. Dit gaan oor "kerk speel", in plaas van "oor die Here". Daar word ongelukkig deesdae min van Christene verwag om GEHOORSAAM te wees;  Christene wat kwaadpraat word bv. nie eens aangepraat nie! Baie Christene stap in opsetlike sonde soos hoereerdery of  gierigheid, maar hulle word nie eens tereggewys nie!  Eerder word daar baie aandag gegee aan menslike beginsels wat niks met die geloof te doen het nie!  Het die kerk ook maar net " 'n geloof" geraak?  Dit is tyd dat daar 'n onderskeid gemaak word tussen dit wat God van ons verwag en dit wat mense van ons verwag.  

No comments: