Tuesday, September 18, 2012

Genesis


"Genesis"
 is die eerste boek in die Bybel en is sowat 4000 jaar gelede geskryf.  
Die boek het 2 hoofdele: 
 (1)  Die skepping van die hemel en die aarde, Adam en Eva, Kain en Abel, Noag en die vloed en die Toring van Babel - (Gen. 1-11). 
(2)  Abraham se geloof;  Jakob en sy 12 seuns; Josef in Egipte, en dit eindig waar Jakob en sy familie in Egipte gaan woon - (Gen. 12-50).


Interessante Feite:

DIE SKEPPING:  Alle mense kom van Adam en Eva.  (Naas die Bybel, is daar  heelwat verhale oor die skepping en oor hoe die aarde ontstaan het onder verskillende kulture en gelowe.  Wat interessant is, is dat die verhale dikwels ooreenstem. Heelwat ou dokumente is opgegrawe, selfs afskrifte van 1635 jaar v.C., waarin die skeppingsverhaal gevind is amper net soos die van Genesis).  

TUIN VAN EDEN: - die woord "Eden" beteken "genot" - die Septuagint lees "paradys".  Die Hebreeuse woord vir paradys, "pardace", word in Spreuke 4:13 en in Neh. 2:8 vertaal as "park" (of "orchard" en "forest" in KJV). Geleerdes spekuleer al jare oor die presiese plek van Eden. Niemand weet regtig presies waar dit was nie.  Die tuin was in die ooste van Eden met twee riviername welbekend, maar die ander twee nie.  Dit was difintief 'n groot distrik.  Ons moet aanneem dat die tuin verwoes is en die aardkors verander het.  (Deut. 29:29).

ADAM EN EVA:  Die woord Adam, beteken "grond" of "rooi sand".  In verskeie skrifte verwys die woord "Adam" na die mensdom (bv. Gen. 5:1,2; 6:5). Die mens is in God se beeld gemaak - die Hebreeuse woord "tselem", wat beteken "ooreenkoms" en in God se "gelykenis gemaak"/ "demuwth", wat beteken ooreenkoms van model, vorm - dit verwys na die uiterlike.

NOAG EN DIE VLOED: In die tyd van Noag, was daar ook reuse op die aarde (Gen. 6:4).  Daar is heelwat skrifte in die Bybel oor "reuse". Die skrif noem hulle die "geweldiges van die ou tyd, die manne van naam".  Ons lees ook van reuse in die beloofde land, Num. 13:33 en die verhaal van Dawid en Goliat.  

TORING VAN BABEL: Die toring van Babel (in ou Babilonie, Sinar, die koninkryk van Nimrod die jagter, Gen. 10:10), was bedoel vir afgodsaanbidding en 'n vb. van ernstige rebellie teen God.  Die woord "Babel" beteken "verwarring" - om die afvalliges te verwar en te keer dat hulle soos een nasie heeltemal afvallig raak, het God hulle tale verwar en hulle versprei oor die aarde.  In die tyd van Gen. 9-11, het al die mense op aarde nog dieselfde taal gepraat en op dieselfde plek gewoon.

Tydlyn:

SKEPPING
|
ADAM  +  EVA
(Sondeval / Weggestuur uit die tuin)
|
Kain               Abel   
Set
(Kain het vir Abel doodgemaak)
|
ENOS
KENAN
MAHALALEL
JERED
HENOG
METUSALAG
LAMEG
|
NOAG
(Sondvloed  /  Noag se Ark)
(God sluit 'n verbond met Noag)
|
GAM                    JAFET
SEM
(Toring van Babel iewers in tydlyn van Noag tot op Abram)
|
ARPAGSAD
SELAG
HEBER
PELEG
REHU
SERUG
NAHOR
TERA
|
ABRAM  (ABRAHAM)
(Die roeping van Abraham)(Abram verlaat Ur - sowat 1900 jaar v.C.)



 Die geskiedenis van Israel AS 'N NASIE, begin by Jakob (Abraham se kleinseun), deur die Here vernoem na "Israel". Ons lees aan die einde van die boek van Genesis dat Jakob en sy familie hulle gevestig het in Egipte.  Daar het hulle 400 jaar gebly en tot die volk van Israel gegroei.  Toe die Israeliete in getalle begin groei, het die Egiptenaars hulle as 'n bedreiging begin beskou.  Hulle het hul beheer verskerp en die Israeliete moes soos slawe werk en die Egiptenare het hulle pasgebore babas in die Nyl verdrink.  Uiteindelik het God vir Moses gestuur om hulle te verlos en uit die land te lei (-die verhaal van Eksodus). Gedurende hulle uittog uit Egipte na die beloofde land,  Kanaän, het hulle 40 jaar in die woestyn rondgeswerf, heelwat langer as wat dit hulle sou neem, weens ongehoorsaamheid aan die Here.  Hier het God vir hulle wette gegee asook die 10 Gebooie.  Ons lees van hierdie tydperk in die boeke van Eksodus, Levitikus, Numeri en Deuteronomium.  Die verowering van die land Kanaän, word in die boek Josua beskryf (sowat 1200 jaar v.C.).  Josua was die leier toe die Israeliete die beloofde land binnegetrek het.  Die land is tussen die stamme verdeel. Die volk was nou versprei oor die land en omring deur vyandige bure.  Die Leviete, uit die stam van Levi, het nie hulle eie grond besit nie en moes deur die ander stamme onderhou word, omdat hulle verantwoordelik was vir die tempeldienste en die werk van die Here.  In Israel is 48 stede vir gebruik deur die Leviete opsygesit. Die ander stamme moes 'n tiende van al hul oeste en kuddes afstaan vir die Leviete.  Dit het soos 'n onbegonne taak gelyk om volle beheer oor die land te kry en die Israeliete het met tyd, uit die oog verloor, dat God eintlik die een is wat vir hulle veg.  Baie het ook begin afgode aanbid en die Here ongehoorsaam.   In die boek van Rigters lees ons meer oor die Israelitiese helde asook die treurige verhaal van afvalligheid onder die volk.  Die boeke van Samuel, Konings en Kronieke, vertel van die Israeliete se ontwikkeling as nasie met konings en profete.  Koning Dawid het Jerusalem sy hoofstad gemaak en wou vir God 'n tempel bou, maar moes tevrede wees om net die materiaal daarvoor te versamel.  Sy seun, Salomo, het uiteindelik die tempel gebou in Jerusalem.  Salomo was ryker as enige ander koning en sy wysheid was legendaries.  Sy regering was Israel se "goue eeu".  Hy het die hoofstad, Jerusalem, uitgebrei en heelwat ander pragtige geboue laat oprig asook die stadsmuur uitgebrei.  Salomo was heerser oor al die nasies van die Eufraat tot by Filistea en die Egiptiese grens.  Die stamme was egter nie almal so gelukkig nie, want daar was swaar belastings en dwangarbeid.  (1 Sam. 8 - 1 Kon. 11).  Toe Salomo se seun oorneem, het die 10 noordelike stamme in opstand gekom en die koninkryk is verdeel (sowat 900 jaar v.C.) - hulle het die "koninkryk van Israel" gestig met Jerobeam as koning - hy het vanuit sy hoofstad Sigem geregeer.  In die suide het Rehabeam (Salomo se seun) as koning regeer vanuit Jerusalem:  "die koninkryk van Juda" (dit was die stamme van Juda en Benjamin). Omdat die noordelike stamme afgesny was van Jerusalem, moes daar 'n aanbiddingsentrum gevind word - Jerobeam kies Dan en Bet-el daarvoor.  Ongelukkig het heidense praktyke gou deel geraak van hierdie aanbiddingsplekke. In 586 v.C. is Jerusalem ingeneem deur Nebukadnesar en die tempel deur sy soldate verwoes - die inwoners is in ballingskap weggevoer (die Babiloniese ballingskap). Die stadsmure is ook afgebreek en die tempelskatte is weggeneem.   Net die armes moes agterbly om die lande te bewerk (2 Kon. 25:1-21). Die einde van Israel as volkstaat, is deur heelwat profete voorspel en in die ballingskap vervul . In 538 v.C. het die eerste ballinge weer teruggekeer na Juda.  Hulle begin Jerusalem weer opbou en die tempel word herbou.  Ongeveer 520 v.C. is die tempel vervang.  Esra het die godsdiens herstel en Jerusalem in orde gekry. 5 Eeue later het Herodus die tempel op nog groter skaal as Salomo herbou. Koning Herodes was nie 'n Jood nie, maar was deur die Romeinse Senaat koning gemaak - deur sy mag en sy verbintenis met Rome en Jerusalem, het die stad gefloreer.( In 6 n.C. is hy deur die Romeine onttroon en Judea het 'n Romeinse provinsie geword).   In 70 n.C. is die (tweede) tempel deur die Romeine verwoes en Jesus se woorde vervul.   Op dieselfde terrein het die Moslems sowat 690 n.C. die "Koepel van die Rots" opgerig.      



No comments: