Sunday, September 16, 2012

Mag die kind van God afgodsoffers eet wanneer dit aangebied word?


Die Christen wil natuurlik niks met "afgode" te doen he nie, maar wat sê die skrif van "afgodsoffers"?  As jy in 'n posisie sou verkeer waar jy met nie-gelowige mense kuier en hulle  jou voedsel aanbied wat aan afgode geoffer is - sou dit verkeerd wees om dit te eet of sou dit onrespekvol wees  as jy dit nie eet nie?

WAT SOU JY DOEN?


*  Om offervleis te eet, kan my liggaam geen skade doen of my gewete besoedel nie, want daar bestaan nie eens iets soos ander gode nie (en die aarde behoort aan die Here en volheid daarvan - 1 Kor. 10:26,28)

*  MAAR as dit my "swak" broeder kan laat struikel, dan moet EK DIT NIE EET NIE of as die ongelowige my meegedeel het dat dit 'n afgodsoffer is, moet EK DIT NIE EET NIE (ter wille van sy gewete).

* ' n Afgod is niks en 'n afgodsoffer is niks , maar wanneer die heidene vleis offer aan afgode, word dit eintlik geoffer aan duiwels!  Ons wil tog nie gemeenskap hou met duiwels nie!

"Alles is my geoorloof, maar nie alles is nuttig nie;  alles is my geoorloof, maar ek sal my nie deur iets laat oorheers nie". 1 Kor. 1:12

" ...maar nie alles stig nie.  Laat niemand sy eie voordeel soek nie, maar elkeen die voordeel van 'n ander". 1 Kor. 10:23,24

1 Kor. 8:1-13 - v.4 -"Wat dan die eet van die offervleis aan die afgode betref, weet ons dat 'n afgod niks in die wêreld is nie, en dat daar geen ander God is nie, behalwe Een".

v. 7-11 -"Die kennis is egter nie in almal nie;  maar sommige, nog altyd bewus van die afgod, eet dit as 'n afgodsoffer, en hulle gewete, wat swak is, word besoedel.  Maar die voedsel bring ons nie nader by God nie;  want as ons eer, het ons geen oorvloed nie, en as ons nie eet nie, ly ons geen gebrek nie.  Maar pas op dat hierdie vryheid van julle nie miskien 'n struikelblok word vir die wat swak is nie.  WANT AS IEMAND JOU WAT KENNIS HET, AAN TAFEL SIEN IN 'N AFGODSTEMPEL, sal sy gewete, as hy 'n swak man is, nie aangemoedig word om van die offervleis aan die afgode te eet nie?  EN MOET DIE SWAKKE BROEDER VIR WIE CHRISTUS GESTERF HET, VERLORE GAAN DEUR JOU KENNIS?".
In die gedeelte stel Paulus dit baie duidelik dat om offervleis te eet, my liggaam geen leed kan doen en my gewete geensins besoedel kan word nie 

Matt. 15:11 -"Nie wat in die mond ingaan, maak die mens onrein nie;  maar wat uit die mond uitgaan, dit maak die mens onrein"); tensy ek dit eet met die doel dat dit offervleis is.  Hy stel dit verder duidelik in v.13 dat, as voedsel my "swak" broeder kan laat struikel, ek dit liewer nie moet eet nie.  (v.7 -"Die kennis is egter nie in almal nie;  maar sommige, nog altyd bewus van die afgod, eet dit as 'n afgodsoffer, en hulle gewete, wat swak is, word besoedel".

Dit gaan dus daaroor dat die wat "swak" is, glo in dinge wat nie bestaan nie (soos afgode). As ek weet dat vleis aan afgode geoffer is, en ek eet dit, dan kan ek veroorsaak dat die "swak" persoon (wat daarin glo), kan struikel omdat ek vir hom wys dit is goed om dit te eet.  In so 'n geval moet ek weier om saam te eet, sodat ek as te ware standpunt inneem teen die aanbidding van afgode.
In 1 Kor. 10:14-33 verduidelik Paulus dit verder:  hy maak 'n vergelyking: die Nagmaal beker- en brood.- (v. 16) -"...is dit nie GEMEENSKAP met die liggaam van Christus nie?"  v. 17,18 -"Omdat dit een brood is, is ons almal een liggaam, want ons het almal deel aan die een brood.  Let op Israel na die vlees:  het die wat die offers eet, nie GEMEENSKAP met die altaar nie?"  v, 20 -"...En ek wil nie hê dat julle met die duiwels gemeenskap moet hou nie".

v. 21 -"Julle kan nie die beker van die Here drink en ook die beker van die duiwels nie".

"Alles is my geoorloof, maar nie alles is nuttig nie..."


v. 25 -29 -"Eet alles wat in die slaghuis verkoop word sonder om navraag te doen, ter wille van die gewete ...en as een van die ongelowiges julle nooi en julle is gewillig om te gaan, eet dan alles wat julle voorgesit word sonder om navraag te doen, ter wille van die gewete...Maar as iemand aan julle sê:  "Dit is afgodsoffer - MOET DIT DAN NIE EET NIE, TER WILLE VAN HOM WAT DIT TE KENNE GEGEE HET, en ter wille van die gewete...ek bedoel die gewete, nie van jouself nie, maar van die ander..."

"WEES GEEN OORSAAK VAN STRUIKELING VIR JODE OF GRIEKE OF VIR DIE GEMEENTE VAN GOD NIE" (v.32)
Die rede?  - "sodat hulle gered kan word"  (v.33)

"Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis?.......Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here;  en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem" 2 Kor. 6:14-17



Ander skrifte wat bespreking kan ontlok:
"Hy wat eet, moet hom wat nie eet, nie verag nie;  en hy wat nie eet, moet hom wat eet, nie oordeel nie, want God het hom aangeneem" - Rom. 14:3  - IN DIE GEDEELTE WORD NIKS VAN AFGODSOFFERS GENOEM NIE EN ONS KAN DUS NIE NOODWENDIG AANNEEM DAT HY HIER NA AFGODSOFFERS VERWYS NIE;  INTEENDEEL:  v.2 -"Die een glo dat 'n mens alles mag eet, maar hy wat swak is, eet groente".  Dit verwys eerder na "EETGEWOONTES".  Dus sou ons  kon sê, ons moenie mense op hulle EETGEWOONTES oordeel nie -hy wat eet moet hom wat nie eet, nie verag nie; en hy wat nie eet, moet hom wat eet, nie oordeel nie.

NET SO in 1 Tim. 4:1-5 -"Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang deur die geveinsheid van leuenaars wat gebrandmerk is in hulle eie gewete, wat verbied om te trou en gebied dat die mense hulle moet onthou van voedsel (vleis)  wat God geskape het om met danksegging gebruik te word deur die gelowiges en die wat die waarheid ken.  Want alles wat deur God geskape is, is goed, en niks is verwerplik as dit met danksegging ontvang word nie..."  Ook hier verwys dit geensins na afgodsoffers nie, maar wel "eetgewoontes".






1 comment:

Unknown said...

Dag Betsie

Na aanleiding van die stuk "Mag die kind van God afgodsoffers eet wanneer dit aangebied word?"

Di 'halal' merk neem oor op die meeste kosse

Die Kosher merk is reeds jare daar

Die verskil is dat Kosher nie 'n priester benodig wat die naam van 'n ander god oor die voedsel uitroep nie

Die artikel gaan oor die eet van afgodsoffers indien dit vir jou voorgesit word

Wat is die siening tydens die aankoop (inkopies) van voedsel wat bv die halal merk dra?

Jou terugvoer hierop sal baie waardeer word

Dankie

Renier