Friday, September 7, 2012

Het die eerste mense op aarde "brood" geken?

Het die eerste mense op aarde "brood" geken?


Ons lees die eerste keer van "brood" in die tuin van Eden!(Gen 3:19) - "In die sweet van jou aangesig sal jy BROOD eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer".

  En dan in  Gen. 18:6 van roosterkoeke -  "Toe loop Abraham haastig in die tent na Sara en sê: Maak gou, knie drie mate meel, die beste, en maak roosterkoeke". (Onthou: Abraham het sowat 4000 jaar gelede gelewe).  

Ons lees ook in Gen. 19:3 van  die "ongesuurde koeke" wat Lot vir die engele gegee het om te eet.  
Daar isook  baie ander skrifte in die Bybel oor "brood". 

Die kosse wat die mense van die Bybelse tyd geëet het, het meer bestaan uit grane, vrugte en groente.  Brood was almal se stapelvoedsel.  Vleis is min geëet en voëls is ook vir kos gevang.  Daar was geen formele ontbyt nie, miskien net 'n eetdingetjie oppad werk toe.  Middagete was gewoonlik brood, olywe en dalk vrugte.  Aandete was gewoonlik 'n groentebredie waarin hulle brood gedoop het en dit dan so geëet het.  Die hele gesin het dan op die vloer saamgeëet en as daar belangrike gaste by was, was daar vleis by die groentebredie.

Die Israeliete het geen suiker gehad nie en het heuning gebruik en somtyds 'n stroop gemaak van dadels en Johannesbrood. Smaakmiddels soos sout en komyn is gebruik.  Ander speserye soos kruisement en anys is ook gebruik.

Garsbrode was waarskynlik die algemeenste (Joh. 6:9).  Die beste meel is van koring gemaak.  Spelt was ook gebruik.  Die graan was eers in 'n vlak mandjie gesorteer om die slegte korrels te verwyder, asook enige giftige sade soos drabok.  Dan is dit gemaal.  Meel is met water en olyfolie tot 'n deeg aangemaak.  Vars gis was skaars.  Gebraaide koring was ook gewild - vars koringare wat op 'n metaalplaat oor die vuur geplaas en "gespring" is (Rut 2:14).  Vir spesiale geleenthede is ook koeke en pasteie gebak.

In die Ou Testament was baie streng wette oor wat geëet mag word en wat nie.  Hulle mag bv. nie vark geëet het nie, ook nie sekere voëls soos aasvoëls nie.  Hulle mag ook nie vleis- en melkgeregte saamgeëet het nie.

Wat is die betekenis van "ongesuurde brode" in die bybel?
Die "pasga" of "fees van ongesuurde brode", was een van die belangrikste jaarlikse Joodse godsdiensfeeste.  Op die fees het elke gesin 'n lam geoffer en ongesuurde brode (brood wat gemaak is sonder suurdeeg) is by die maaltye geëet in die daaropvolgende week.  Gesinne het die fees sommer by hulle huise gevier, maar later, in Nuwe Testamentiese tye,  is dit die groot "pelgrimsfees" genoem en spesifiek in Jerusalem gevier (Mark. 14:1,2).  By die aanvang van hierdie godsdiensfeeste, was die ramshoring (of sjofar) geblaas.  Daar was ook heelwat ander feeste, bv. die "Loofhuttefees",  "Tempelwyding",  "Purim-fees", "seremonie van Eerstelinge", "Weke", "Trompette", "Versoendag", e.a. 


Die rede vir die feeste was meestal om een of ander gebeurtenis te vier (en te ONTHOU).  Die pasga het spesifiek gegaan oor die herdenking van toe God die Israeliete uit Egipte uitgelei het.  (Gaan lees Eks. 12;  Jos. 5:10-12;  Mark. 14:1,2).  Voor God hulle uitgelei het uit Egipte, moes elke gesin die bloed van 'n lam aan hulle deurkosyne smeer sodat die doodsengel by hulle kon verbygaan en nie hulle eersgeborenes doodmaak saam met die van Egipte nie.  Die brood wat haastig sonder suurdeeg gebak was, nl. ongesuurde brode, was ter herdenking van die haastige voorbereidings toe Farao die Israeliete uiteindelik toegelaat het om te gaan.  

Dit is met 'n Pasgamaal wat Jesus die Nagmaal ingestel het en dus het hulle  "ongesuurde brode" gebruik.  (Matt. 26:26).  Net soos die bloed aan die kosyne die Israeliete se eersgeborenes gespaar het, net so spaar Jesus Christus se bloed  vir ons; en soos die ongesuurde brode gebreek word by die pasgamaal, so is Jesus Christus vir ons gebreek aan die kruis -  (Mark. 14:22-24).  Christene vier nie die Joodse Pasgafees nie, maar vier gereeld die Nagmaal ter herdenking vir wat Jesus vir ons gedoen het en met Paasfees, die kruisiging en opstanding van Jesus Christus.  

Reinheid en waarheid word vergelyk met "Ongesuurde brode"  in die skrif in 1 Kor. 5:8, terwyl onreinheid en ongehoorsaamheid met "suurdeeg" voorgestel word (1 Kor. 5:6,7) - Paulus verduidelik dat wanneer sonde toegelaat word in die kerk, dit versprei soos suurdeeg deur 'n stuk deeg en "dan maak dit die hele deeg suur". Dus moet opsetlike aanhoudende sonde aangespreek word sodat die gemeente soos "ongesuurde brode " kan wees, rein en mense wat die waarheid liefhet (v.8). Jesus se liggaam was die perfekte heilig "ongesuurde brood" (vir ons gebreek). Net so moet die kerk (wat funksioneer soos "die liggaam van Christus") soos ongesuurde brood wees.


No comments: