Friday, September 7, 2012

Wat is die "Ark van die Verbond"?

Die Ark van die Verbond
(Eks. 40:2,3)-  "Op die dag van die eerste maand, op die eerste van die maand, moet jy die tabernakel van die tent van samekoms oprig. En jy moet daarin plaas die ark van die Getuienis en die ark met die voorhangsel bedek".

Die ark van die verbond was 'n reghoekige kis van duursame akasiahout - dit was met goud oorgetrek en is aan pale gedra wat deur die ringe aan die 4 onderste hoeke gesteek is.  Dit het in die allerheiligste gestaan.  Soms was dit saamgeneem oorlog toe as simbool van God se beskerming.
Binne-in die "ark van die verbond" was:

(1) - 2 Tafels van die wet
(2) - 'n Goue pot vol manna, en
(3) - die Staf van Aäron wat oornag gebloei het.

Lees oor die "2 Tafels van die Wet" in:
*  Eks. 24:12;  Eks. 31 tot 34;  Deut. 9 en 10;  2 Kron. 5:10;  Hebr. 9:4

Lees oor die "Goue pot vol manna" in:
*  Eks. 16:33;  Hebr. 9:4

Lees van "Aäron se staf" in:
*  Num. 17:2-10;  Hebr. 9:4    

Die deksel was van soliede goud en op die punte was gerubs figure met oopgespreide vlerke as 'n teken van God se beskerming.  Na die verwoesting van die laaste tempel, weet niemand waar die ark van die verbond is nie.  Volgens Joodse tradisie het Jeremia die ark, na die tempel se verwoesting, in 'n grot op Neboberg weggesteek;  ander sê weer dat koning Josia dit in 'n grot onder Jerusalem weggesteek het. Daar is ook 'n Etiopiese legende wat vertel dat die seun van koning Salomo en die koningin van Skeba dit na Etiopië geneem het waar dit klaarblyklik in 'n kerk in Aksum versteek is.   Party mense is van mening dat dit in die hemel is, want ons lees in Openb.  11:19 -"En die tempel van God het in die hemel oopgegaan, en sy verbondsark is in sy tempel gesien...", maar omdat die skrif verwys na die tyd van 'n oordeelsdag, kan dit wees dat die verbondsark nog op die aarde is en God dit sal wegneem hemel toe op die einde? Sekere mense beweer dat die ark van die verbond reeds gevind is, maar stil gehou word.


Ons lees van die ark van die verbond in:  Ex. 25:10-22; Deut. 10:1-5;  Hebr. 9:4,5;  Jos. 6:6,8 en 1 Sam. 5. 

Die deksel van die ark, wat ook met goud oorgetrek was, was bekend as die VERSOENDEKSEL:  -Op die groot versoendag elke jaar is bloed (van die offer) daarop gesprinkel om berou oor sondes te simboliseer.  Die ark is ook gesien as "God se voetstoel", omdat dit die plek was waar God met die Hoëpriester ontmoet het.  
Lees gerus verder oor die ark:
-  van die wonderwerk toe die volk op droë grond deur die Jordaan trek, van hoe die water weggetrek het toe die priesters WAT ARK GEDRA HET se voete aan die water raak - Joshua 3:11- 4:16.
-  van hoe bevrees die Filistyne geraak het toe hulle hoor dat die ark van God in die midde van die Israeliete is -1 Sam. 4:7.
-  van wat met die Filistyne gebeur het toe hulle gewaag het om die ark te steel!  - 1 Sam. 5.

Het die teenwoordigheid van die "ark van die verbond" beteken dat God altyd die volk sou help en beskerm?
Die "ark van die verbond" was so bekend dat die Filistyne eintlik bang geword het toe die Israeliete dit saambring oorlog toe! (1Sa 4:5-7) -" En net toe die verbondsark van die HERE in die laer inkom, hef die hele Israel ‘n groot krygsgeskreeu aan, sodat die aarde gedreun het. En die Filistyne het die geluid van die gejuig gehoor en gesê: Watter geluid van ‘n groot krygsgeskreeu is dit in die laer van die Hebreërs? Toe verneem hulle dat die ark van die HERE in die laer gekom het. En die Filistyne het bang geword, want hulle het gesê: God het in die laer gekom!..."

 Vir die heidene was dit 'n teken dat God met die Israeliete is en hulle sal help, maar het God die Israeliete regtig gehelp daardie dag?  Alhoewel hulle vir God aan hulle kant gehad het, moet ons onthou dat VIR FEITLIK ELKE BELOFTE IN DIE BYBEL, DAAR OOK VOORWAARDES IS.  Dit beteken dat, al het God belowe dat Hy vir hulle 'n God sou wees, hulle sekere voorwaardes moes nakom.  Die vraag is, het hulle die voorwaardes nagekom?  Gaan lees 1 Samuel 4 tot 7.  In 1 Sam. 7:3 merk ons dat die Israeliete se harte nie reg was voor die Here nie en dat daar selfs die was onder die volk wat afgode aanbid het!  Daarom het God hulle nie gehelp daardie dag nie (al was Hy by hulle!) en Israel is so verslaan dat hulle moes wegvlug na hulle tente toe.  Toe die volk egter later gehoorsaam en die afgode verwyder en hulle bekeer en besluit om hulle vertroue net in die Here te plaas, toe help God hulle en hulle verslaan die Filistyne. 

Party Christene gee nie ag daarop dat hulle die "voorwaardes" moet nakom nie.  Die feit dat die Here by ons is deur Sy Heilige Gees, beteken nie dat ons ons vryheid kan gebruik om te sondig nie.  Die Christen kan ook nie staatmaak op die Here se hulp as Hy nie sy eerste Liefde is nie!

No comments: