Monday, September 3, 2012

Die 7 Briewe in Openbaring

Die 7 Briewe in Openbaring

Die 7 briewe in Openbaring, (aan 7 gemeentes), was nie net spesifiek aan daardie betrokke gemeentes gerig nie, maar is ook voorbeelde van
HOE DIE KERK VAN CHRISTUS REGTIG LYK ! Volgens hierdie 7 briewe, is dit duidelik dat daar heelwat gelowiges is wat nie die Here se goedkeuring wegdra nie.  Telkens, in elke brief, is die Here se  BELOFTES aan Sy gemeentes, gekoppel aan spesifieke VOORWAARDES.

Dit is net "DIE WAT OORWIN", wat werklik hierdie beloftes deelagtig gaan raak.
Die briewe is 'n bewys daarvan:

*   dat Christene wat nie die VOORWAARDES nakom nie,  nie die BELOFTES deelagtig gaan raak nie.
*  dat sekere Christene doodgemaak sal word ter wille van die Naam van die Here.
*  dat Christene moet GEDULDIG wag op die Here en nie moedeloos word nie.
*  dat die Christene wat NIE GEREED is nie, die wederkoms sal ervaar soos die ongelowiges dit sal ervaar, "soos 'n dief in die nag".
*  dat Christene kan verloor wat hulle het, as hulle nie vashou aan die geloof nie.


Die 7 briewe kan ook direk gekoppel wees met eindtye en is voorbeelde van hoe Christene kan seker maak hulle is gereed vir die wederkoms.  In meeste van die briewe, het Jesus bv. stellings gemaak, soos:

*(Openb. 2:5)  "Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke. ANDERS KOM EK GOU NA JOU TOE en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie".
*(Openb. 2:10)  "Vrees vir niks wat jy sal ly nie. Kyk, die duiwel gaan sommige van julle in die gevangenis werp, sodat julle op die proef gestel kan word; en julle sal tien dae lank verdrukking hê. WEES GETROU TOT DIE DOOD TOE, en Ek sal jou die kroon van die lewe gee".
(Openb. 2:16)  "Bekeer jou; ANDERS KOM EK GOU NA JOU TOE en sal teen hulle oorlog voer met die swaard van my mond".
*(Openb. 2:25)  "Hou maar net vas wat julle het, TOTDAT EK KOM".
*(Openb. 3:3)  Onthou dan hoe jy dit ontvang en gehoor het, en bewaar dit en bekeer jou; as jy dan nie wakker word nie, SAL EK OP JOU AFKOM SOOS 'N DIEF, EN JY SAL NIE WEET IN WATTER UUR EK OP JOU AFKOM NIE."
*(Openb. 3:11)  "KYK, EK KOM GOU! Hou vas wat jy het, sodat niemand jou kroon kan neem nie

Die 7 briewe sluit in:
----------------------------------------------------------------------
-  Die brief aan die gemeente van  Éfese (Openb. 2:1-7)
VOORWAARDE: "Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke".  
BELOFTE:   'Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om te eet van die boom van die lewe wat
 binne in die paradys van God is'. 
Die Christene van die gemeente, sou wees wat ons noem, "voorbeeldige Christene" - hulle het die werke gehad, lydsaamheid, hou van die goeie...MAAR hulle het nie die Here meer as hulle EERSTE LIEFDE geken nie!  So ernstig voel Jesus daaroor, dat Hy vir hulle sê: (Openb. 2:5)  "Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en BEKEER JOU en DOEN DIE EERSTE WERKE. 
Wat beteken dit om die Here AS EERSTE LIEFDE TE KEN? Volgens bg. skrifgedeelte, was hierdie Christene mense wat Hom wel as Eerste Liefde geken het, maar Hom as eerste liefde VERLAAT HET.  Dit praat dus van mense wat eens tot bekering gekom het, in 'n persoonlike verhouding met die Here gekom het, Hom bo alles in hulle lewens gestel het, MAAR alhoewel hulle die goeie werke, lydsaamheid en begeerte na die goeie oorgehou het, hulle nie meer die Here:
*  PERSOONLIK KEN nie;  of
*  nie meer DIE HERE BO ANDER DINGE PLAAS nie.
 Die Christen moet nooit ophou om persoonlike gebedstyd met die Here te spandeer nie.  Jesus het die belangrikheid van gebed vele male beklemtoon, o.a. het Hy gesê:  (Mat 6:6)  "Maar jy, wanneer jy bid, gaan in jou binnekamer, sluit jou deur en bid jou Vader wat in die verborgene is; en jou Vader wat in die verborgene sien, sal jou in die openbaar vergelde".  Hy het ook baie gepraat oor hoe die lewe nie belangriker moet wees as die Here nie. 
---------------------------------------------------------

-  Die brief aan die gemeente van Smirna (Openb. 2:8-11)
VOORWAARDE: "wees getrou tot die dood toe".   
BELOFTE:  "Die wat oorwin, sal deur die tweede dood geen skade ly nie".
Die Christene van Smirna, het armoede goed geken, tog maak Jesus die opmerking:  "Ek ken jou werke en verdrukking en armoede MAAR JY IS RYK...".  Jesus maak ook die volgende stelling t.o.v. hulle verdrukkinge:  "VREES VIR NIKS WAT JY SAL LY NIE.  Kyk, die duiwel gaan sommige van julle in die gevangenis werp, sodat julle op die proef gestel kan word; en julle sal tien dae lank verdrukking hê. WEES GETROU TOT DIE DOOD TOE..."

Uit bg. merk ons twee baie interessante punte:
(1)  al is hulle  ARM, sien Jesus hulle as "RYK";
(2)  Jesus red hulle nie uit die verdrukking nie, maar verwag liewer van hulle "om GETROU TE WEES TOT DIE DOOD". 
Wat beteken dit om RYK TE WEES IN DIE HERE?
Volgens die skrif, sien Jesus "seëninge" heelwat anders as wat ons dit sien.  
(Luk 6:21)  "Salig (geseënd) is julle wat nou honger het, want julle sal versadig word. Salig is julle wat nou ween, want julle sal lag.
(Luk 6:22)  "Salig is julle wanneer die mense julle haat, en wanneer hulle julle verstoot en beledig en jul naam weggooi soos iets wat sleg is, ter wille van die Seun van die mens".
Salig die vredemakers, die wat honger en dors na geregtigheid, die wat Sy gebooie doen...ens.  Dit gaan nie altyd "goed" met die persoon wat geseënd is nie. Dit is belangriker om "ryk te wees in die Here", as om alles te hê in die lewe. "Goedgaan" het niks te doen met hoeveel besittings, of voorspoed in die lewe of wêreldse genietinge nie.
 (Luk 9:24)  Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, hy sal dit red.
---------------------------------------------------------

-  Die brief aan die gemeente van  Pérgamus (Openb. 2:12-17)
VOORWAARDE: "moet hulle bekeer van valse leerstellings".   
BELOFTE: "Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om te eet van die verborge manna, en Ek sal hom gee ‘n wit keursteen, 
en op dié steen ‘n nuwe naam geskrywe wat niemand ken nie, behalwe hy wat dit ontvang".
Die Christene van Pergamus, was mense wat vasgehou het aan die Here se Naam en die geloof in Hom nie verloën het nie, selfs toe iemand in hulle geledere, gedood is ter wille van die geloof.  Dit praat dus van Christene wat reeds vrug dra in die Here (vgl. met verhaal van saaier).  Tog noem Jesus 'n paar dinge wat Hy teen hulle hou, nl. Christene wat vashou aan valse leerstellings, wat o.a. leer om afgodsoffers te eet en te hoereer.

So ernstig neem Jesus dit op, dat Hy vir hulle sê:  (Openb. 2:16) -  "Bekeer jou; anders kom Ek gou na jou toe en sal teen hulle oorlog voer met die swaard van my mond".
Wat is hierna waarna Jesus verwys nl. "oorlog voer met die swaard van my mond"?
 HY VERWYS NA SY WEDERKOMS EN DIE WRAAK VAN GOD OP DIE GODDELOSES:
 (Openb. 19:15)  "En uit sy mond gaan daar ‘n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met ‘n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige".
(Openb. 19:21)  "En die ander is gedood met die swaard wat uit die mond gaan van Hom wat op die perd sit; en al die voëls is versadig van hulle vlees".
Christene wat vashou aan valse leerstellings, sal dus onder dieselfde oordeel val as die goddeloses as hulle hulle nie bekeer nie.
----------------------------------------------------------------
-  Die brief aan die gemeente van Thiatíre (Openb. 2:18-29)
VOORWAARDE: Hou vas wat jy het en bewaar Sy werke tot die einde
BELOFTE: Sal jou mag oor die nasies gee en die môrester gee.
Die Christene van Thiatire, het die nodige werke en liefde en diens en geloof getoon, selfs lydsaamheid.  Tog was die Here ook nie tevrede met baie van hulle nie, want sommige het 'n valse profetes toegelaat om leerstellings te verkondig wat die gemeentelede laat sondig het om afgodsoffers te eet en te hoereer. Vir die wat nie betrokke geraak het by die valse leerstellings nie, het Jesus beveel om maar net vas te hou dit wat hulle het, "totdat Hy kom", maar vir die wat volgens die valse leerstellings gelewe het, waarsku Hy dat Hy hulle sal tugtig en hulle deur 'n groot verdrukking sal laat gaan.  Wat die valse profetes en haar kinders aanbetref, het Hy verklaar dat Hy haar op 'n siekbed sal neerwerp en haar kinders sal doodmaak.  

Jesus maak dan die volgende stelling:  (Openb. 2:23b)  
"EN AL DIE GEMEENTES SAL WEET DAT DIT EK IS WAT NIERE EN HARTE DEURSOEK,  EN EK SAL AAN ELKEEN  VAN JULLE GEE VOLGENS SY WERKE".
Iets wat baie duidelik na vore kom uit hierdie brief, is dat Jesus ALMAL sal oordeel, nie net ongelowiges nie, maar ook gelowiges!  Hy ondersoek alle hart en niere. ( Let wel v. 18, Sy oë soos ‘n vuurvlam, en sy voete is soos blink koper).   Elkeen sal ontvang volgens sy werke.  Baie Christene stap in opsetlik, aanhoudende sonde sonder om hulle van daardie sondes te bekeer.  Die Here tugtig die wat Hy liefhet, omdat Hy nie wil hê dat hulle verlore moet gaan nie (Hebr. 12:7;Openb. 3:19) .   V.21, wys hoe lankmoedig die Here is en hoe Hy mense eers  kans gee om reg te maak.     
Weer-eens in v.26 en 27, is dit net "DIE WAT OORWIN", en sy werke bewaar tot die einde, wat die beloftes deelagtig raak.  Terwyl een van die beloftes in hierdie gedeelte daaroor gaan dat ons saam met Hom sal regeer, is dit duidelik dat nie alle Christene hierdie voorreg sal kry nie (maar net "die wat oorwin"!).  
---------------------------------------------------------------------  

-  Die brief aan die gemeente van Sardis (Openb. 3:1-6)
VOORWAARDE: Onthou hoe jy die waarheid ontvang en gehoor het, en bewaar dit en bekeer jou
BELOFTE: Sal beklee word met wit klere,  sy naam al nooit uitewis word uit die 
boek van die lewe nie, en Jesus sal sy naam bely voor Sy Vader en voor sy engele.
Van die gemeente het Jesus gesê:  "Ek ken jou werke, dat jy die naam het dat jy leef en jy is dood". Dit is die een gemeente van wie Jesus sê dat hulle werke nie volkome is nie! Jesus het dit ook duidelik gemaak, dat as hulle nie die waarheid onthou soos hulle dit ontvang en gehoor het nie, en dit bewaar nie, en hulle bekeer nie, as hulle dan nie WAKKER WORD nie,- DAN SAL HY OP HULLE AFKOM SOOS 'N DIEF, en hulle sal nie weet in watter uur Hy op hulle afkom nie.  Tog was daar enkele persone in Sardis wat nie hulle klere besoedel het nie - van hulle het Jesus gesê dat hulle saam met Hom in wit klere sal wandel omdat hulle dit waardig is.

Inteendeel:  ook vir die ander, die "WAT OORWIN", sal  BEKLEE WORD MET WIT KLERE en hulle name sal nooit uit die boek van die lewe uitgewis word nie. 
  Hierdie brief laat mens dink aan die gelykenis van die saaier - van die saad wat in die dorings gesaai is—dit is soos daardie persoon  wat die woord hoor, maar die sorge van hierdie wêreld en die verleiding van die rykdom verstik die woord, en hy word onvrugbaar. In skriftuurlike terme is iemand wat onvrugbaar raak, soos iemand wat dood is. So moet ons onself ook besig maak met die waarheid, dit onthou soos ons dit ontvang en gehoor het, en nie toelaat dat dit ons gedagtes verlaat deurdat die sorge van die lewe dit verstik nie.  
  Die tema van "soos 'n dief in die nag", word telkens in die skrif vgl. met mense wat leef soos hulle in die dae van Noag of in die dae van Lot gelewe het:  "...geëet en gedrink, hulle het getrou en is in die huwelik gegee tot op die dag..." (Luk.17:26-30) .  Dit beteken nie dat ons nie mag eet of trou ens. nie, maar dat ons nie die lewe bo die Here moet stel nie.  Ons moet meer besig wees met die Here, as met die lewe. 

-----------------------------------------------------------------
-  Die brief aan die gemeente van Filadelfía (Openb. 3:7-13)
VOORWAARDE: Hou vas wat jy het sodat niemand jou kroon kan vat nie
BELOFTE: Sal bewaar word van die uur van beproewing;
die Here sal hom ‘n pilaar maak in die tempel van God, en hy sal daar nooit weer uitgaan nie; en Hy sal op hom die Naam van God skrywe en die naam van die stad van God, van die nuwe Jerusalem.
Die Christene van hierdie gemeente was deur Jesus beskou as die met min krag, maar wat die woord  van Sy lydsaamheid bewaar het en Sy Naam nie verloën het nie.  Van die valse Christene, het Jesus gesê:  "Ek sal maak dat hulle kom en voor jou voete neerbuig en erken dat Ek jou liefgehad het". Ook verklaar Hy, dat omdat hulle die woord van Sy lydsaamheid bewaar het, Hy hulle sal bewaar van die "uur van beproewing" wat oor die hele wêreld kom. 
In die brief, moedig Jesus die Christen aan om VAS TE HOU, WAT HY HET, sodat niemand sy kroon  kan neem nie.  
Wat is die "uur van beproewing" waarvan Jesus praat?
  Hierdie gesegde, het al veel debat uitgelok onder geleerdes.  Jesus verduidelik die "uur van beproewing" as volg:  (Openb. 3:10)  "...die uur van beproewing wat oor die hele wêreld kom OM DIE BEWONERS VAN DIE AARDE OP DIE PROEF TE STEL.  Dit is dus amper soos 'n versoeking om te kyk wat die mens gaan kies. Jesus het vir ons geleer in Mat 6:13 om o.a. te bid:  "lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose". Hy het ook self op 'n stadium gebid tot die Vader:
(Joh 17:15)  "Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose bewaar".  
L.w., hoe Jesus dit belowe aan die "wat vashou wat hulle het".  Die woorde "sodat niemand jou kroon kan neem nie", wys daarop dat dit moontlik is dat die Christen kan verloor wat hy ontvang het sou hy dit nie oppas nie.
-----------------------------------------------------------

-  Die brief aan die gemeente van Laodicense (Openb. 3:14-22)
VOORWAARDE: Bekeer jou en maak die deur vir Hom oop; -raak ryk in die Here, dra vrug en soek na Sy wil en waarheid
BELOFTE: Sal saam met Hom maaltyd hou;  sal saam met Hom op Sy troon sit.

Van die gemeente van Laodicense, het Jesus hulle beskuldig dat hulle LOU is. (Openb. 3:16)  "Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou UIT MY MOND SPUUG".  Jesus verduidelik ook in die volgende vers hoekom Hy sê hulle is lou:(Openb. 3:17)  Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie".  Die gemeente spreek dus van Christene wat hulle sekuriteit plaas in besittings, wêreldse genot en lewe.  Jesus maak die volgende stelling t.o.v. hulle: "en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en ARM en BLIND en NAAK is nie".

-  Dit is die wat dink dit gaan goed met hulle omdat hulle ryk is, maar eintlik is hulle ARM in die Here.  
-  Dit is die wat dink hulle sien goed wat aangaan en hoe dinge werk, m.a.w. hulle "sien soos die wêreld sien, maar eintlik is hulle BLIND vir die waarheid.
-  Dit is die wat dink hulle is bedek en veilig omdat hulle aan 'n kerk behoort of die naam het van 'n Christen ens., maar eintlik is hulle NAAK volgens die Here en hulle saligheid nie veilig nie, omdat hulle geen vrug dra nie.

(Openb. 3:19)  "Almal wat Ek liefhet, bestraf en tugtig Ek. Wees dan ywerig en bekeer jou".  Jesus moedig hulle aan in v. 18 om van Hom te koop goud wat deur vuur gelouter is en wit klere en salf.  Jesus verwag dus van hulle om hulle hoop eerder op die Here te plaas, Hom te kies bo die lewe en Sy waarheid te soek en vrug te dra wat by die bekering pas.  
(Luk 8:17)  "Want daar is niks verborge wat nie openbaar sal word nie, of weggesteek wat nie bekend sal word en in die lig sal kom nie.
(Luk 8:18)  Pas dan op hoe julle hoor; want elkeen wat het, aan hom sal gegee word; en elkeen wat nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy dink dat hy het".

-------------------------------------------------------------------

(Sommige mense is van mening dat die briewe ook ooreenstem met die 7 tydperke onder die 7 seëls.  Alhoewel heelwat inligting ooreenstem, is dit natuurlik net 'n interpretasie.  Dit is egter nodig om elke brief deur te lees en die inligting te gebruik om te sien wat Jesus as belangrik beskou vir die Christen. Dit is 'n goeie manier om onsself te ondersoek en seker te maak dat ons lewe soos ware Christene). 
------------------------------------------------------------------






No comments: