Sunday, September 16, 2012

Die Christen


Die woord "Christen" kom in 3 verse in die Bybel voor, nl. Hand.11:26- ("  En hulle het ‘n hele jaar lank in die gemeente saam vergader en aan ‘n aansienlike skare onderwys gegee; en die dissipels is in Antiochíë vir die eerste keer Christene genoem"); Hand. 26:28- (" En Agríppa sê vir Paulus: Jy beweeg my byna om ‘n Christen te word"); en in 1Pet  4:16 - ("Maar wanneer iemand as ‘n Christen ly, moet hy hom nie skaam nie, maar God verheerlik in hierdie opsig").   Die woord "Christen" is die Griekse woord, "kris-tee-an-os" wat beteken, "volgeling van Jesus Christus". Die woord "Christene" was dus al in gebruik in die tyd van die eerste kerke en ons lees daarvan vir die eerste keer in Hand. 11:26 (sowat 8 jaar n.C).   

Alhoewel die verlossingsboodskap van Jesus Christus tot op Hand. 10 net aan die Jode verkondig was, beteken dit nie dat alle "Jode" Jesus Christus aanvaar het nie en inteendeel, weet ons dat dit juis die Jode was wat hulle Verlosser doodgemaak het!  Ons weet dus nie of die woord "Christene" alreeds voor hierdie tyd gebruik was nie, maar dit kon moontlik wees omdat net 'n deel van die Jode Jesus Christus as hulle Verlosser aanvaar het.  
Ons weet dat dit eers in Hand. 10 is wat God vir Petrus gestuur het na die huis van Cornelius (iemand wat 'n heiden was, maar wel God gevrees het),  Nadat Petrus vir hulle gepreek het, het hulle ook die Heilige Gees ontvang en is gedoop.  Dus het die dissipels nie meer net onder die Jode gepreek na Hand. 10 nie, maar ook onder die heidene.  Heidene kon dus ook nou deel raak van die Christendom, sou hulle Jesus Christus as hulle Saligmaker aanvaar.  Moontlik was dit eers in hierdie tyd dat die "ander gelowe" hulle "Christene" begin noem het om hulle te onderskei van die "ortodokse" Jode - wie weet, maar nietemin maak dit nie regtig saak hoe daar aan die naam "Christene" gekom is nie.  Wat duidelik is, is dat Christene wel "volgelinge is van Jesus Christus", soos die naam tereg sê.

Maak dus nie saak wie eerste die naam begin gebruik het nie, want "ware" Christene word nie gekenmerk deur die naam nie, maar CHRISTENSKAP IS 'N HARTSAAK!  Dit is nie die "rituele" soos kerk toe gaan of om goed te doen, wat Christene kenmerk nie, maar hulle PERSOONLIKE VERHOUDING met God in die dat hulle Jesus Christus as hulle Verlosser ken,   hulle begeerte OM SY WIL TE DOEN EN HOM GEHOORSAAM TE WEES.

Die geloof van die ware Christen, is dus heeltemal verskillend van alle ander "gelowe", in die sin dat die Christen se geloof heeltemal onselfsugtig is en die Christen hom/haar deur die Here wil laat lei.  "Werke" kan hom nie red nie.  Die ware Christen is afhanklik van die Here en leef vir Hom, nie vir homself nie.  Alle "ware" Christene ontvang die Heilige Gees van God, sodat God se wil in hulle lewens sigbaar kan raak - deur Sy Gees werk Hy verskillende gawes deur hulle (selfs dinge wat hulle nie oor die algemeen kon doen nie), ook Sy vrug (geregtigheid en 'n begeerte om Sy wil te doen) en gee Hy hulle krag om Hom te verkondig aan ander.  Hy praat ook met hulle deur Sy Heilige Gees en herinner hulle aan Sy woorde.  Om 'n Christen te wees, is inderdaad 'n toestand van die hart, waar iemand absoluut afhanklik is van die Here, Hom begeer en Sy wil begeer - net so, is dit 'n groot voorreg om wedersydse kommunikasie met die God van die heelal te ken ervaar.  

Natuurlik is daar diesulkes wat net die naam van Christen dra en vir wie dit gaan oor die rituele.  Daar is ook die valse profete in die kerk wat soek na eie eer en wat nie die wil van God begeer nie.  Daar is ook die wat wel tot Christenskap gekom het, maar teruggeval het in die plesiere van die lewe en hulle eie wil. Baie mense verlaat CHRISTENSKAP a.g.v. hierdie afvalliges en raak betrokke in ander bewegings, maar dit plaas 'n vraagteken rondom hulle eie Christenwees, want God word nie gekenmerk deur die optrede van mense nie.  Christenskap gaan nie oor hoe ander mense optree rondom jou nie, maar wel oor jou stand voor die Here, of jy Hom regtig kies en liefhet, Sy wil soek en Hom gehoorsaam wil wees deur Sy offer in Sy Seun Jesus Christus te aanvaar en Hom te ken. 'n Ware Christen word gekenmerk deur iemand wat tot bekering gekom het ('n totale hartsverandering ondergaan het) en wederbaar is deur die Here (deur Jesus Christus gee Hy ons mag om kinders van God te raak).  So iemand lyk regtig of hy "weer gebore" word, want sy hele uitkyk op die lewe verander, sy denke, sy begeertes, sy lewe kry sin, hy word tevrede en hy lewe nie meer vir homself nie, maar vir die Here.

Nie alle kerke verkondig meer die gesonde leer van Christus nie. (Ons moet verstaan dat die kerk maar net 'n "samekoms is van gelowiges").   Siende "kerk" nie iemand se saligheid beïnvloed nie, is geen Christen gedwing om aan 'n spesifieke "kerk" te behoort nie, alhoewel kerk toe gaan baie belangrik is vir die gelowige - die samekoms van gelowiges word gekenmerk as die "liggaam van Christus" - dit is die plek waar Christene saamkom om meer te leer van die Here, saam Sy Naam aanroep in gebed, saam deel te hê aan die  nagmaal en soos 'n liggaam funksioneer waar die een die "voet" is, 'n ander die "neus", ens. As ons kerk wil klassifiseer as 'n "samekoms van GELOWIGES" (van Christene), dan is kerk vandag baie anders as die voorbeeld van die eerste kerke.  Die kerk het verander in 'n evangelisasieveld en daar word maar min saamgebid en die Here se wil gesoek. Dit kan natuurlik nie gese word van alle kerke nie, en baie kerke maak tyd vir eenkant gebed van net gelowiges.  Min kerke soek God se wil in hulle besluite en  die manier hoe die mense "dinge sien", het ongelukkig belangriker geraak in baie kerke as die manier hoe "God dit sien". Kerke het ook baie "gebooie van mense" toegelaat en baie is onder die wanindruk dat "werke" hulle kan red.  Daar sit ook baie mense wat hulleself Christene noem  wat in opsetlike en aanhoudende sondes stap en vroom op 'n Sondag vir God respekteer, maar in die week doen wat hulle wil.  Hierdie "valsheid" by sekere "Christene", het al baie veroorsaak dat die weg van die waarheid gelaster word. (2 Pet. 2:2)  

(Kyk gerus na die opsomming "Valse Broers"). 

Anders as die Tempel of die Tabernakel waarvan ons lees in die Skrif, is die destydse sinagoges en die kerkgebou nie dieselfde nie en nie in opdrag van God opgerig met spesifieke instruksies nie, maar bloot 'n plek van samekoms vir die gelowiges.  Omdat gelowiges egter daar saamkom en saambid, is God daar.  
(Mat 18:20)  "Want waar twee of drie in my Naam vergader, daar is Ek in hul midde".

----------------------------------------------------


(Mat 11:28)  Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.
(Mat 11:29)  Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele;

(Mat 11:30)  want my juk is sag en my las is lig.

(Joh 13:16)  Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, ‘n dienskneg is nie groter as sy heer nie, en ‘n gesant is ook nie groter as die een wat hom gestuur het nie.
(Joh 13:17)  As julle hierdie dinge weet, salig is julle as julle dit doen.

(Joh 7:38)  Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei.

(1Jn 1:2)  en die lewe is geopenbaar, en ons het dit gesien, en ons getuig en verkondig aan julle die ewige lewe wat by die Vader was en aan ons geopenbaar is—

(Joh 1:12)  Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo;

(Jak 2:26)  Want soos die liggaam sonder gees dood is, so is ook die geloof sonder die werke dood.



No comments: