Friday, September 7, 2012

Die Huwelik/ huwelik hiernamaals/voorhuwelikse seks


 Gaan gelowiges  trou in die hiernamaals?
Toe hulle vir Jesus 'n soortgelyke vraag vra, was Sy antwoord in Luk 20:35 - "maar die wat waardig geag word om daardie eeu en die opstanding uit die dode te verkry, TROU NIE EN WORD NIE IN DIE HUWELIK UITGEGEE NIE".

Die toekomstige wêreld is aan die gelowiges belowe.  Die gelowiges wat deel het aan die eerste opstanding, sal dan nie meer trou nie, ook nie meer sterwe nie en sal soos "engele wees en kinders van God".
Dat ons soos engele gaan wees, beteken nie ons sal engele wees nie, maar "kinders van God", soos die engele is.  (Heb 2:5-7)  "Want aan die engele het Hy die toekomstige wêreld waarvan ons spreek, nie onderwerp nie;  maar iemand het êrens getuig en gesê: Wat is die mens, dat U aan hom dink, of die mensekind, dat U hom besoek?  U het hom ‘n weinig minder as die engele gemaak; met heerlikheid en eer het U hom gekroon en hom oor die werke van u hande aangestel".


Die Huwelik in Bybelse tye:
 Geleerdes verskil oor hoe die huwelik presies plaasgevind het.  Volgens Gen. 24;  21:21 en 38:6, het die ouers of 'n getroue vriend 'n bruid gekies vir die bruidegom.  Alhoewel dit die geval was, sien ons tog in Gen. 34:4 en Rig. 14:2 dat beide Sigem en Simson hul ouers gevra het dat hulle met spesifieke vroue wou trou.  In Gen. 24:58 was Rabekka ook nie gedwing om met Isak te trou nie, maar sy kon die besluit maak of sy wil of nie.  

Alhoewel troues eerder gesien was as 'n meer burgerlike fees as 'n godsdienstige, is dit 'n ernstige saak vir die Here en Hy hou nie van egskeiding nie. ( Mal. 2:14;  Matt. 19) .  Die Bybel gee nie direkte regulasies oor huwelikseremonies nie, maar dit is duidelik dit hulle een of ander soort seremonie gehou het (Joh. 2).   Reeds met die verlowing was daar al 'n kontrak voor twee getuies geteken en soms is daar 'n ring of 'n armband gegee - die meisie sou nog by haar ouerhuis bly tot en met die troue.  'n Bruidsprys moes aan die pa van die bruid betaal word (Gen. 29; 1 Sam. 18:25) wat weer aan die dogter gegee word by haar ouers of man se dood (dus mag die pa dit nie gebruik het nie, alhoewel hy die rente daarvan kon gebruik - Laban het egter die wet oortree!-Gen.31:15).  Die meisie se pa sou weer 'n bruidskat gee aan haar of haar man, bv. bediendes of grond.  

In Bybelse tye was 'n paartjie gereed om te trou sodra die bruidegom die nuwe huis gereed gehad het.  Die bruidegom gee ook vir haar juwele.  Hy sou wag tot die aand waarin sy vriende hom dan vergesel na die bruid se huis.  Daar gekom, wag sy bruid hom in gekleed in haar troukleed en die juwele wat hy vir haar gegee het.  In 'n eenvoudige plegtigheid is die sluier afgeneem en op die bruidegom se skouer geplaas.  Daarna was dit die huweliksfees by die bruidegom of sy ouers se huis. Volgens die tradisionele Joodse huwelikseremonie, aanvaar die man sekere huwelikspligte, nl. die voorsiening van kos, woonplek en klere vir sy vrou, en selfs beloftes dat hy ook emosioneel vir haar sal sorg. 

 Wat sê die skrif van verliefdes wat saambly?
Baie jongmense en selfs grootmense bly vandag saam sonder om tot trou te kom, of bly saam met mekaar vir 'n paar jaar met die besluit om later te trou;  en l.w., ons praat nou nie van net vriende nie, maar mense wat ook voorhuwelikse seks bedryf.  Al sou twee mense besluit om later te trou, is dit op geen stadium ooit reg vir enige iemand om seks te beoefen "voor" die huwelik nie. Die skrif is egter duidelik oor die onderwerp: -(1 Kor. 7:9) - "maar as hulle hul nie kan beheers nie, laat hulle trou; want dit is beter om te trou as om van begeerte te brand".  Uit die skrif is dit duidelik dat dit nie reg is om gemeenskap te beoefen voor die huwelik nie.  Om dit beter te verduidelik:  As hulle dan "van begeerte brand", moet hulle liewer trou (sodat hulle nie gemeenskap beoefen buite die huwelik nie) - lees gerus die skrif weer.
Die skrif praat gewoonlik van mense wat gemeenskap beoefen buite die huwelik, as mense wat "hoereer".  Dit is glad nie aanneemlik vir die Here nie en daar is talle skrifte oor "hoereer" in die Bybel asook oor die konsekwensies daarvan (bv. 1 Thess. 3:4,5;  Hebr. 13:4;  1 Kor. 6:18; Hand. 15:20; 1 Kor. 5:1; 2 Kor. 12:21). (1 Kor. 7:2) - "Maar vanweë die hoererye moet elke man sy eie vrou hê, en elke vrou moet haar eie man hê".

(Mat 19:5,6)  -God het gesê: "Om hierdie rede sal die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef, en hulle twee sal EEN VLEES wees; sodat hulle nie meer twee is nie, maar een vlees. Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie".  Wanneer twee mense gemeenskap het, dan "raak hulle een". Net soos God nie daarvan hou wanneer 'n paartjie skei nie, net so is dit verkeerd vir twee mense om te trou met die idee dat hulle "mag skei" as dit nie uitwerk nie - net so is dit verkeerd vir twee mense om bymekaar te bly sonder om te trou "omdat hulle dan mag skei sou dit nie uitwerk nie".  God het nie iets teen seks nie (Hy't dit dan self ontwerp!), maar Hy hou nie daarvan as mense gemeenskap buite die huwelik beoefen nie.

No comments: