Sunday, September 16, 2012

Beloftes en Voorwaardes

Vir elke mens is dit belangrik om gelukkig te wees - ons wil voel dit "gaan goed met ons"; alhoewel mense se definisie daarvan heelwat kan verskil.  Wanneer iemand die Here aanneem, verander so 'n persoon van iemand "sonder hoop" na iemand "met baie hoop".  Die vraag is egter, verwys hierdie hoop net na 'n "hoop van saligheid" of ook na 'n hoop op dit wat ek begeer in die lewe of drome wat waar word?  


Jak. 1:25 -"...hy...sal gelukkig wees in wat hy doen".
Joh. 15:7 -"...sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry".
Matt. 6:30-"As God dan die gras van die veld, wat vandag daar is en môre in 'n oond gegooi word, so beklee, hoeveel te meer vir julle, kleingelowiges?"

........daar is baie beloftes in die Bybel.  Party mense het getikte lyste van hierdie beloftes wat hulle selfs afbid van die Here, maar is dit hoe dit hoort?  Diesulkes sorg dat hulle deeglik bewus is van God se beloftes en neem 'n positiewe gesindheid in hieroor deur dit "uit te spreek" oor hulle eie lewens, maar ons weet goed dat mense nie altyd kry wat hulle bid nie en dat vele gelowiges, wat hierdie beloftes afbid van die Here, self ook getuig dat "dit nie werk nie".  

Om duidelikheid te kry oor hierdie onderwerp, moet ons gaan kyk na voorbeelde in die Bybel asook skrifte "met beloftes", in konteks gaan lees:

-Die deel wat baie Christene mis, is dat, vir feitlik 
ELKE BELOFTE IN DIE BYBEL, IS DAAR OOK 'N VOORWAARDE!  
Lees bv. Jak. 1:25 in konteks:  "Maar hy wat diep insien in die volmaakte wet van die vryheid en daarbly bly," (L.W.:  VOORWAARDES!!!)
-"hy sal, omdat hy nie 'n vergeetagtige hoorder is nie, maar 'n dader van die werk, gelukkig wees in wat hy doen"- (BELOFTE).
Kyk ook die volgende voorbeelde:
*  Joh. 15:7 -"AS JULLE IN MY BLY EN MY WOORDE IN JULLE" -(L.w., voorwaarde!)-"sal julle vra net wat julle wil he, en dit verkry" -(belofte).

*  Matt. 6:30 - in konteks: v. 32 "julle hemelse Vader weet wat julle NODIG het;
            :33  "MAAR SOEK EERS DIE KONINKRYK VAN GOD EN SY GEREGTIGEHEID" - (voorwaarde) - " en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word" -(belofte).

...en so kan ons aangaan, belofte na belofte, voorwaarde na voorwaarde...

*  1 Joh. 3:22 -"en wat ons ook al bid, ontvang ons van Hom",- (belofte) - "omdat ons sy gebooie bewaar en doen wat welgevallig is voor Hom" -(voorwaarde).

*  Joh. 15:7 -"As julle in My bly en my woorde in julle," - (voorwaarde) - "sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry" -(belofte).

*  1 Joh. 5:14 - "En dit is die vrymoedigheid wat ons teenoor Hom het, dat Hy ons verhoor" - (belofte) - "as ons iets vra VOLGENS SY WIL" - (voorwaarde).

*  Joh. 15:16,17 -"Julle het My nie uitverkies nie, maar Ek het julle uitverkies en julle aangestel om vrug te gaan dra en dat julle vrug kan bly," - (voorwaarde) "sodat wat julle die Vader ook al in my Naam vra, Hy julle dit kan gee." - (belofte) -  "Dit gebied Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê" - (voorwaarde).

*  1 Joh. 3:22 -"en wat ons ook al bid, ontvang ons van Hom," - (belofte) - "omdat ons sy gebooie bewaar en doen wat welgevallig is voor Hom" - (voorwaarde).

Wanneer kan ek vra en kry?
- IN HOM BLY
-SY WOORDE BEDINK
-SY WIL SOEK
-SY GEBOOIE BEWAAR
-DOEN WAT REG IS VOOR HOM.......

Nie baie Christene soek vandag meer na die wil van die Here, spandeer regtig persoonlike tyd met die Here of soek na wat die regte ding is om te doen voor Hom nie, of  maak tyd om Sy woorde te bedink nie - maar omdat hulle "Christene" is, glo hulle dat hierdie beloftes vir hulle is?!  Om 'n "Christen" genoem te word en Sy beloftes deelagtig te raak, beteken egter om 'n CHRISTEN te wees!  Ons weet tog goed dat werke sonder geloof niks is, maar net so geloof sonder werke!  Die vrug van die Christen, bewys dat hy/sy 'n Christen is.  Wanneer iemand regtig tyd maak met die Here en Sy wil soek in alles, dan verander ons wil en gedagtes.  Die EIE WIL was maar altyd 'n groot probleem.  ONS WEET OOK dat ons slegs GELOOF KRY DEUR DIE WIL VAN GOD TE KEN, DEUR HOM TE KEN - dan, wanneer ons Sy wil ken en Hom kies as die Heerser oor ons lewens, dan verander ons wil en verkry ons geloof outomaties.   



Wanneer ons "geloof" of "hoop" het in iets wat nie die Here se wil is nie, sal ons dit nie kry nie, maar a.g.v. ons eie wil en begeertes, en omdat ons dit nie oorlaat aan die Here nie, het ons baiemaal "valse hoop". Ons kan ook nie "as God se kinders" staatmaak op Hom, as ons Hom nie waarlik dien nie! 

Kom ons kyk na die voorbeeld in 1 Samuel 4.  Ons lees hier van hoe Israel  (God se volk) in 'n geveg deur die Filistyne verslaan word. Hulle was regtig verbaas hieroor, want hulle kon nie verstaan hoekom God hulle in die steek gelaat het nie.  v.3 -  "Terwyl die manskappe die laer inkom, sê die oudstes van Israel: Waarom het die HERE ons vandag voor die Filistyne verslaan? Laat ons die verbondsark van die HERE uit Silo na ons toe bring, dat dit onder ons inkom en ons verlos uit die hand van ons vyande".  Ons is darem al goed bekend met die "verbondsark" wat in die allerheiligste gestaan het in die Tabernakel.  Dit was somtyds as SIMBOOL VAN GOD SE BESKERMING saamgeneem oorlog toe. Hulle het gereken dat God hulle definitief nou sou help met die teenwoordigheid van die ark. - v.5 -"En net toe die verbondsark van die HERE in die laer inkom, hef die hele Israel ‘n groot krygsgeskreeu aan, sodat die aarde gedreun het".- hul geskreeu het gedui op HOOP, maar was dit valse hoop? Hierdie is 'n goeie voorbeeld van hoe mense hulleself kan opsweep tot valse hoop soos ons somtyds merk in sekere kerke die geval, 'n leë geskreeu en geraasmaak om die "geloof te probeer opwek"!!!  (Nie dat dit altyd verkeerd is nie, maar ons moet verstaan dat geloof  'n hartsaak is!)

Selfs die Filistyne het bang geraak, lees ons in die volgende skrifte, toe hulle die geskreeu hoor en hoor dat die ark van die Here in die laer ingekom het, en het geroep:  1Sa 4:8 "Wee ons! Wie sal ons red uit die hand van hierdie geweldige gode? Dit is dieselfde gode wat die Egiptenaars met allerhande plae getref het in die woestyn." 
Wat het egter daarna gebeur?  Het die Here Sy volk gehelp?  NEE! -   1Sa 4:10  "Toe het die Filistyne geveg, en Israel is verslaan, sodat hulle gevlug het, elkeen na sy tente toe. En die slagting was baie groot: van Israel het daar dertig duisend voetgangers geval. 

1Sa 4:11  Die ark van God is ook geneem". 
DIT WAS VALSE HOOP!!! 
  GOD HET HULLE NIE GEHELP NIE, SELFS MET SY TEENWOORDIGHEID VAN DIE ARK IN HULLE MIDDE! 
Hoekom nie?

Ons kry in 1 Sam. 7:3 die antwoord: "...As julle met jul hele hart julle tot die Here bekeer, verwyder dan die vreemde gode...en rig julle hart op die Here en dien Hom alleen;  dan sal Hy julle red uit die hand van die Filistyne."  - in die vers merk ons beloftes en voorwaardes.  Ons lei duidelik af dat die volk se harte verkeerd was voor die Here en dat hulle selfs ander afgode ook aanbid het.  Hulle het God nie alleen gedien nie!  Hulle het in sonde gestap en God nie as hulle eerste Liefde meer geken nie!  Hoe wil hulle dan nou staatmaak op Sy beloftes?

In v.5-10 lees ons hoe die volk hulle uiteindelik bekeer van hulle verkeerde weë EN DIE FILISTYNE OORWIN!  Ja, die voorwaardes maak saak.

Oor die "hoop van saligheid" wat ons as Christene het, is daar baie verskille onder die geleerdes, siende baie van mening is dat "eenmaal 'n kind van God, altyd 'n kind van God".  Selfs hierdie skrifte oor die "hoop van saligheid" moet ook in konteks gelees word en dit moet altyd onthou word dat die "eie wil" maar altyd in die pad gestaan het van 'n regte verhouding met God.  Die skrif is ook vol voorbeelde van mense (en engele) wat verloor het wat hulle ontvang het weens hulle terugval.  Dit is egter nie ons plek om te oordeel wie regtig in 'n verhouding met die Here is nie, maar Jesus het vir ons geleer dat "aan hulle vrug sal hulle geken word".  Ons lees ook van baie dissipels (in die Nuwe Testament) wat van die geloof afvallig geraak het.  "Christene" moet versigtig wees om vas te hou aan 'n "hoop van saligheid" wanneer hulle nie eens regtig die Here persoonlik ken nie!  Beter om seker te maak dat Christenskap nie net gaan oor vriendskap en om kerk te speel nie, maar omdat jy die Here waarlik ken en liefhet, Sy wil soek in jou lewe en Hom gehoorsaam wil wees.  
-------------------------------------------------------------------------

Kort opsomming:

*  Feitlik elke belofte in die Bybel, het ook 'n voorwaarde.

*  Geloof, God se wil en Gehoorsaamheid, gaan hand aan hand.

*  Ons moet nie net God se beloftes begeer om eie gewin nie, maar eerder Hom begeer en die res sal volg.

*  Christene moet seker maak dat hulle regtig besig is met die Here, Hom ken as Eerste Liefde en Sy wil soek in alles.
----------------------------------------------------


Ps. 66:18 -"As ek ongeregtigheid bedoel het in my hart, sou die Here nie gehoor het nie".

Sag. 7:12,13 -"Ook het hulle hul hart soos ‘n diamant gemaak, om nie die wet te verneem nie en die woorde wat die HERE van die leërskare deur sy Gees, deur die diens van die vroeëre profete gestuur het nie. So het daar dan van die HERE van die leërskare ‘n groot toorn gekom.  Daarom, soos Hy geroep en hulle nie gehoor het nie—so sal hulle roep, maar Ek nie hoor nie, het die HERE van die leërskare gesê".

Jak. 4:3 -"Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle verkeerd bid, om dit in julle welluste deur te bring".

Joh. 9:31 -"En ons weet dat God nie sondaars verhoor nie;  maar as iemand godvresend is en Sy wil doen, dié verhoor Hy".

Jes. 59:2 -"maar julle ongeregtighede het 'n skeidsmuur geword tussen julle en julle God, en julle sondes het Sy aangesig vir julle verberg, sodat Hy nie hoor nie".

1 Pet. 3:7 -"Net so moet julle, manne, verstandig met hulle (vroue) saamlewe en aan die vroulike geslag, as die swakkere, eer bewys, omdat julle ook mede-erfgename van die genade van die lewe is-sodat julle gebede nie verhinder mag word nie".

Matt. 6:7 -"En as julle bid, gebruik nie 'n ydele herhaling van woorde soos die heidene nie, want hulle dink dat hulle deur hul baie woorde verhoor sal word".

Luk. 18:14 -"...want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, en hy wat homself verneder, sal verhoog word".







No comments: