Friday, October 4, 2013

Gaan uit haar uit, My volk...

(Openb. 18:4)  "En ek het ‘n ander stem uit die hemel hoor sê: Gaan uit haar uit, my volk,
 sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie.
(Openb. 18:5)  Want haar sondes reik tot aan die hemel, en God het haar ongeregtighede onthou.
(Openb. 18:6)  Vergeld haar soos sy ook julle vergeld het, en verdubbel dit vir haar volgens haar werke. Skink vir haar dubbel in die beker waarin sy geskink het".  
Met die "val van Babilon" word die geregtiges beveel om "uit haar uit te gaan, sodat hulle nie gemeenskap met haar sondes mag hê nie".  Die val van Babilon is deel van God se wraak  (l.w., nie die verdrukking soos baie leer nie!) op die ongeregtiges. AS DIE GELOWIGE NIE UIT HAAR UITGAAN NIE, DAN SAL HULLE OOK VERWOES WORD SAAM MET HAAR. So het ook gebeur met Lot met die verwoesting van Sodom en Gamorra - Lot moes vlug.  So ook met Noag - God het vir hom 'n uitweg gegee waarin Hy hom sou beskerm in die midde van die vloed.  As Noag nie gehoorsaam was aan die Here nie, dan het hy met sy familie ook gesterf in die vloed. So ook in die geval met die Israeliete toe Korag, Datan en Abíram in opstand kom teen Moses en  Aäron en die priesteramp begeer het - God het hulle verslind, maar almal 'n kans gegee om weg te kom van die opstandiges af sodat hulle nie saam met hulle sou omkom nie.  (Num 16:26)  . 

(Jer 51:6)  "Vlug uit Babel uit, en red elkeen sy lewe; kom nie om in sy ongeregtigheid nie; want dit is die tyd van wraak vir die HERE: Hy gee hom sy verdiende loon".
(Jer 51:45)  "Gaan uit hom uit, my volk, en red elkeen sy lewe van die toorngloed van die HERE!"

Volgens die skrif verwys "Babilon" na 'n stad, maar dit word ook voorgestel as 'n afvallige stelsel

 Wie is  deel van die afvallige stelsel?  Wat behels so 'n stelsel? Oral waar ons van Babilon lees, het dit te doen met sonde en afvalligheid.  Ons kan bv. die vraag vra, dat sou 'n gelowige in opsetlik, aanhoudende sonde stap, beteken dit dat hy deel is van die afvallige stelsel? Die afvallige stelsel behels 'n stelsel waar mense nie na die wil van die Here soek nie of Hom as hulle Here erken nie. 'n Leuenaar (wat bly voortstap in die sonde van leuens sonder om hom te bekeer daarvan), is deel van die afvallige stelsel.  Iemand wat egbreuk pleeg of hoereer sonder om hom te bekeer, is deel van die afvallige stelsel. So ook iemand wat afgode aanbid, of 'n gierigaard, of kwaadspreker, of dronkaard...ens. (1 Kor. 5:11)  maar nou skryf ek aan julle om nie om te gaan met iemand wat, al staan hy as ‘n broeder bekend, ‘n hoereerder is of ‘n gierigaard of ‘n afgodedienaar of ‘n kwaadspreker of ‘n dronkaard of ‘n rower nie; met so iemand moet julle selfs nie saam eet nie. - kyk gerus my blogpost, getiteld "is daar iets soos groot en klein sonde")
 Net soos mense die sonde kies a.g.v. die voordele wat hulle daaruit kan kry, so sal mense ook 'n antichristiese stelsel kies vir die voordele wat hulle daaruit kan kry.  Dus is daar baie ander geloofspraktyke soos oosterse meditasie ens. wat deel is van die antichristiese stelsel en mense kies dit bloot vir die voordele wat hulle dink hulle daaruit kan kry.  Die afvallige stelsel het te doen met "die manier van hoe mense sien", en nie die manier hoe "die Here dit sien" nie.   

Die Antichris se stelsel sal ook 'n afvallige stelsel wees.
(Openb. 13:14-18) 
Die stelsel van die Antichris sal, eerstens, anti-Christus wees.  Daarom sal daar groot vervolging wees onder die Christene wanneer die Antichris oorneem, omdat dit juis die Christene is wat nie gaan saamstem met sy stelsel nie - in daardie stelsel sal die bewoners van die aarde gedwing word om die dier te aanbid en om sy merk te dra, waarsonder hulle nie sal kan koop of verkoop nie.
Reeds van die vroegste tye en ook sigbaar in die tyd van die eerste gemeentes, was hierdie dinge al aan die werk in die wêreld:  
(1Jn 4:3)  "en elke gees wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie, is nie uit God nie; en dit is die gees van die Antichris waarvan julle gehoor het dat hy kom, en hy is nou al in die wêreld".  
 Om deel te wees van die Antrichris se stelsel,  beteken dat iemand dieselfde "dink" en saamstem met die stelsel.  As ons dink dat dit nie so maklik gaan wees vir die vyand om mense se denke te verander nie, dan maak ons 'n fout, want in vandag se lewe dink selfs baie Christene alreeds anders as wat vir hulle geleer is! 

  Ons weet bv. dat Jesus Christus die enigste Saligmaker is;  
tog is daar baie Christene wat deesdae glo dat hulle nie ander gelowe mag aanstoot gee en hulle "geloof" op iemand anders mag afdwing nie.  In hierdie geval begin dink die persoon "soos die wêreld" en is dus DEEL VAN die anti-christelike wereldstelsel! 

So ook het baie Christene selfs deel geword van al die verkeerde "oordeel" wat in die wêreld teenwoordig is, "raak nie", "smaak nie", en allerhande wette met sogenaamde voorwaardes;  daar word bv. ook neergekyk op mense se swakhede, terwyl die Here eintlik juis die swakhede van die Christen gebruik omdat hy dan meer op die Here vertrou.  
- hieroor skryf Paulus aan die gemeente van Kolossense: 

Vele Christene het ook "traag geword om te hoor" - hulle plaas liewer hulle vertroue in wêreldse wysheid, as in die Here en laat na om die waarheid te soek.  Hieroor sê die Hebreër-skrywer: (Heb 5:11-14)  "waaroor ons veel te sê het wat swaar is om te verklaar, omdat julle traag geword het om te hoor. Want hoewel julle vanweë die tyd leraars behoort te wees, het julle weer nodig dat ‘n mens julle die eerste beginsels van die woorde van God moet leer, en julle het weer behoefte aan melk en nie aan vaste spys nie. Want elkeen wat melk gebruik, is onervare in die woord van geregtigheid, omdat hy ‘n kind is.  Maar vaste spys is vir volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei". Dus, wanneer iemand meer besig is met die lewe as met die Here, en nie regtig tyd maak met die woord en na die waarheid soek nie, het dit tot gevolg dat diesulkes nie kan onderskei tussen goed en kwaad nie!  Dit maak hulle oop vir valse leerstellings en wêreldse insig en het tot gevolg dat baie Christene vandag "dink soos die wêreld dink". Dit is ook nie verniet dat Jesus juis gepraat het van valse profete in die laaste dae.
En as ons reken dat dit logies sal wees om die nodige onderskeiding te maak en die anti-christelike maklik te erken, moet ons ook nie so seker wees nie, want baie dinge in vandag se lewe kom logies voor, maar is nie so logies nie bv. die feit dat ons dink dit is reg as ons kinders 30 uur per week in die skool spandeer, plus nog huiswerk by die huis, maar daar word net 15 min. op 'n Sondag uitgesit vir Sondagskool met geen Sondagskool huiswerk nie omdat die kinders te veel ander werk het! (...en dan reken ons die wêreldse sienings het geen invloed op ons nie?).  Baie Christene se sienings het verander in die dae en hulle neig al meer om soos die wêreld te "dink".  Jesus se woorde in Mat 10:39-  "Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind", is net nie so logies in vandag se lewe nie! En wat van die  bergpredikasie? (Matt. 5-7) - in vandag se lewe is dit bv. net nie logies om jou  besittings te deel met ander of ekstra grond e.a. te verkoop om in nood te voorsien nie.... So min verstaan ons van hoe dit eintlik moet wees! (...en dan reken ons die wêreldse sienings het geen invloed op ons nie?)
Lees gerus my blogpost getiteld "Sou jy Paulus nog respek betoon?":  http://warechristene.blogspot.co.nz/2012/01/sou-jy-paulus-nog-respek-betoon.html  .

Die punt is dat die Christen van vandag baie anders dink en ons nie besef hoeveel ons deel geraak het van die Babel stelsel nie.  Ons is veronderstel om volgens die waarheid te leef, nie volgens wêreldse wysheid nie.     
(2 Kor. 6:14-18) - "Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis? En watter ooreenstemming het Christus met Bélial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige? Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode? Want julle is die tempel van die lewende God, soos God gespreek het: Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees. Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem;  en Ek sal vir julle ‘n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees, spreek die Here, die Almagtige. (2 Kor. 7:1)  Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring".
(ONS MOET DIE GODSALIGHEID NAJAAG).

(2 Joh. 1:9-11)- "Elkeen wat ‘n oortreder is en nie bly in die leer van Christus nie, hy het God nie. Wie in die leer van Christus bly, hy het die Vader sowel as die Seun. As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie en groet hom nie. Want die een wat hom groet, het gemeenskap aan sy bose werke.
(ONS MOET NIE VRIENDE WEES MET ALMAL NIE)

(1Ti 5:22)  Moenie haastig iemand die hande oplê nie, en moet ook nie met die sondes van ander gemeenskap hê nie. Hou jou rein.
(ONS MOET NIE SAAM MET DIE ONGELOWIGES IN DIESELFDE JUK TREK NIE)

........en so meer.
-------------------------------------------------------------------------------------------------------

Dit het tyd geraak dat die Christen vir die Here vra om hom te leer en te wys watter dinge "nie van Hom is nie";  meer te bid, meer tyd met die woord te spandeer, gedagtes vernuwe en die wêreldse dinge af te lê.
 Die Christen moet anders dink as die wêreld.
"GAAN UIT HAAR UIT, MY VOLK..."

No comments: