Friday, October 4, 2013

Christene in die pad van ander Christene

Vele Christene voel " in die pad" in die kerk.  En wee die een wat dink dat die Here 
hom 'n opdrag gee, want dan is daar altyd diesulkes wat toesien dat hy op sy plek 
gesit word! 
Dit is selfs gevaarlik om deel te raak van die werkspan in sekere kerke, want dit is net daar waar die probleme begin vir sekere lidmate.

Dit is natuurlik waar dat soveel Christene vandag "meer besig geraak het met die lewe as met die Here", en dit veroorsaak dat die kerk versigtig moet wees wie hulle toelaat in sekere bedienings. Dit is ook die kerk se plig!  Baie Christene dink bv. dat hulle oor wonderlike "kennis" beskik, maar het hulle kennis verkry van boeke en mense en faal om die waarheid te soek, self die Skrif te ondersoek en in 'n verhouding met die Here te kom.  Dit is dus logies dat diesulkes nou bv. nie lering kan gee of Sondagskool nie, maar in hierdie pos wil ons nie uitklaar hoe ons diesulkes identifiseer nie, maar meer spesifiek kyk na hoekom sekere ware Christene nie toegelaat word om te bedien nie.  Hoekom is daar net sekere mense in die kerk wat kwansuis van die Here hoor?  En hoekom staan hierdie mense in die pad van ander ware gelowiges wat wel deur die Here gebruik word?  
--------------------------------------------------------------------------------------------------------
Hierdie probleem is egter niks nuuts nie!  Met bestudering van drie skrifgedeeltes hieronder, sal ons die antwoord kry op ons vraag, oor
" hoekom sekere Christene in die pad staan van ander Christene".

-(1)   In Mark. 9:33-41 was die dissipels ontsteld oor iemand anders wat, alhoewel nie saam met hulle gestap het nie, ook duiwels uitgedryf het in die Here se Naam. (Mar 9:38 -" Meester, ons het iemand gesien wat in u Naam duiwels uitdryf en wat ons nie volg nie; en ons het hom belet, omdat hy ons nie volg nie").  Jesus het die dissipels egter beveel om hulle nie te stuit nie, want, het Hy gese:   "wie nie teen ons is nie, is vir ons". 
 Hoekom het die dissipels in die pad probeer staan van hierdie ander gelowiges!!!?   

-(2)   In Joh. 3:22-30, was Johannes se dissipels ontsteld oor die feit dat Jesus en Sy dissipels ook mense doop, maar Johannes het hulle geantwoord:  "'n mens kan niks aanneem as dit hom nie uit die hemel gegee is nie".    
Hoekom wou Johannes se dissipels in die pad staan van Jesus en Sy dissipels!!!?  

Die rede hiervoor is duidelik uit beide skrifgedeeltes: 
- In die eersgenoemde skrifgedeelte (Mark. 9:33-41), het Jesus geweet waaroor die dissipels geredeneer het.  Sy woorde aan hulle: "As iemand die eerste wil wees, moet hy die laaste van almal en almal se dienaar wees".  Die dissipels wou in die ander se pad staan, omdat hulle BELANGRIKER wou wees!  Hulle wou eerste wees en kon nie dink dat iemand anders ook die plek kan vervul nie.  (Gaan lees gerus die gedeelte in konteks). 

- Net so in die tweede skrifgedeelte (Joh. 3:22-30) - Johannes stel dit reg deur te verduidelik dat hy (wat Johannes is) nie BELANGRIKER is as Jesus Christus nie.  Sy woorde: "Hy moet meer word, maar ek minder".  Weer-eens was die wortel van die probleem die feit dat Johannes se dissipels hulself "eerste" wou stel, en belangriker wou wees. 

-(3)   Kyk ook 3 Jn 1:9,10 - "Ek het aan die gemeente geskrywe, maar Diótrefes, wat onder hulle die eerste wil wees, steur hom nie aan ons nie. Daarom, as ek kom, sal ek hom herinner aan die werke wat hy doen deur met slegte woorde teen ons uit te vaar; en hiermee nie tevrede nie, ontvang hy nie alleen self die broeders nie gasvry nie, maar verhinder ook die wat dit wil doen en werp hulle uit die gemeente".   -hy het direk in die pad gestaan van die ander gelowiges deur hulle te verhinder om die wil van die Here te doen -

Hoekom het Diotrefes in die pad gestaan van ander gelowiges!!!?  
Kyk die woorde, "wat onder hulle die EERSTE WIL WEES"....... Hy wou die belangrike een wees en weer-eens, soos die vorige voorbeelde het dit tot gevolg gehad dat hy in die pad gestaan het van die Here se werk en nie ander toegelaat het om te doen wat die Here van hulle verwag nie.
Waar dit vir mense gaan oor verkeerde redes, "om belangrik te wees", of "om eerste te wees", verhoed hulle ander om DIE WIL VAN DIE HERE TE DOEN.

So kan ware gelowiges ook maklik erken wie die persone is vir wie dit gaan oor status, eer en posisie. Terwyl die Fariseërs Jesus heeltemal verkeerd  geoordeel het, het Jesus hulle reg beoordeel, wanneer Hy van hulle gesê het: 
(Mat 23:5)  "En hulle doen al hul werke om deur die mense gesien te word, en hulle maak hul gedenkseëls breed en die some van hul klere groot.
(Mat 23:6)  En hulle hou van die voorste plekke by die maaltye en die voorste banke in die sinagoges
(Mat 23:7)  en die begroetinge op die markte en om deur die mense genoem te word: Rabbi, Rabbi!"
Die is ook een van die redes hoekom die Fariseers en Skrifgeleerdes in Jesus se pad gestaan het:  status, eer en posisie!  (Dit bring ons natuurlik by die volgende vraag oor wie die persone is aan wie ons onsself onderdanig stel om ons te lei...). 
----------------------------------------------------------------------------------------------
 Ons moet  "die Here dien" om die regte redes - dit moet nie gaan oor eie gewin nie, maar ons moet wees soos ONVERDIENSTELIKE DIENSKNEGTE, wat VIR DIE HERE WERK UIT GEHOORSAAMHEID AAN HOM, nie volgens wat ek dink moet gebeur, of omdat ek baas wil speel, of omdat ek belangrik of "iets" wil wees nie. 
(Luk 17:10)  "So ook julle, wanneer julle alles gedoen het wat julle beveel is, sê dan: Ons is onverdienstelike diensknegte, want ons het gedoen wat ons verplig was om te doen".

OM DIE HERE TE DIEN of OM VIR HOM TE WERK, HET NIKS TE DOEN MET POSISIE OF STATUS NIE, maar DIT HET TE DOEN MET "GEHOORSAAMHEID AAN HOM", om onverdienstelike diensknegte te wees vir Hom.  
 Die Here wil he ons moet op Hom vertrou;  daarom kies Hy baiemaal die een wat "swak" voorkom vir die job.  Waar ons dink dat iemand nie "belangrik genoeg is" vir 'n job nie, het ons klaar gefaal, want dit gaan oor wie die Here wil gebruik en wat Hy deur daardie persoon wil doen.  
God kyk na die hart. 

No comments: