Sunday, October 14, 2012

Christen Debat: Saligheid


Almal is bekend met die gesegde:  
"eenmaal 'n kind van God, altyd 'n kind van God"
 Alhoewel die gesegde glad nie voorkom in die Bybel nie, is daar heelwat ander skrifte waarvan die afleiding gemaak kan word;  of is daar?

Vir jare is daar heelwat verskil onder leke sowel geleerdes oor die onderwerp van of die Christen sy/haar saligheid weer kan verloor nadat hy/sy tot bekering of wedergeboorte gekom het. 
 Sommige is van mening dat jy nooit jou saligheid kan verloor nadat jy 'n kind van God geword het nie;  ander is weer oortuig daarvan dat jy wel jou saligheid kan verloor, sou jy afdwaal of in opsetlik, aanhoudende stap.  

Daar is heelwat skrifte rondom die onderwerp en in hierdie debat word beoog om na soveel moontlik skrifte te gaan kyk en die moontlikhede van elke stelling te oorweeg.   
------------------------------------------------------------------------


Groep 1:  "Die Christen kan nooit sy/haar saligheid weer verloor nie"
(Die volgende word deur die groep as bewyse voorgehou)


-  Nadat iemand Jesus Christus as sy Saligmaker aangeneem het, dan kan daardie persoon versekerd wees van sy/haar kindskap in die Here.(Joh. 6:37-40; 3:16; 10:9) 
-  As 'n Christen bly stap in sonde en nie die nodige vrug dra nie, dan het hy nooit regtig tot bekering gekom nie.(Joh. 10:24-27;  1 Joh. 2:3,4; Matt. 7:16; Matt. 7:22,23) 
-  "Saligheid" kan nie verkry word deur "heilig lewe" of wette nie, maar deur 'n keuse te maak vir die Here. (Rom. 3:23,24; Joh. 3:16; Rom. 4:13-16;  5:1,2; 1 Joh. 1:8-10))
-  Almal sondig, al kom hulle tot bekering - God vergewe altyd -   Jesus het klaar vir daardie sondes betaal.(1 Joh. 1:9; 1 Kor. 5:1-5)  


(Joh 6:37)  Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie.
(Joh 10:27)  My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My.
(1Jn 2:4)  Hy wat sê: Ek ken Hom, en sy gebooie nie bewaar nie, is ‘n leuenaar en in hom is die waarheid nie.
(Matt 7:15)  Maar pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is.
(Rom 4:13)  Want die belofte dat hy erfgenaam van die wêreld sou wees, het Abraham of sy nageslag nie deur die wet verkry nie, maar deur die geregtigheid van die geloof.
(Rom 5:1)  Omdat ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur onse Here Jesus Christus;
(1Kor 5:5)  om so iemand aan die Satan oor te lewer tot verderf van die vlees, sodat die gees gered kan word in die dag van die Here Jesus.
(1Kor 3:15)  as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.
(Rom 8:38,39)  Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.
---------------------------------------------



Groep 2:  "Die Christen kan sy/haar saligheid verloor as hy/sy bly stap in aanhoudend, opsetlike sonde" 
(Die volgende word deur die groep as bewyse voorgehou)  
                                  


-  Daar is heelwat voorbeelde van mense in die Bybel wat verloor het wat hulle eens ontvang het van die Here; dus alhoewel die kind van God versekerd kan wees van sy saligheid, kan hy dit verloor as hy dit nie oppas nie.(Adam en Eva het ewige lewe verloor - Gen. 3;  koning Saul het Heilige Gees verloor - Dawid het ook geglo dit kan gebeur - Ps. 51:11; Lucifer, gevalle engele - het "seunskap" verloor;  ens.)

-  Heelwat gemeentes en Christene is gewaarsku in die Bybel dat hulle afgesny kan word van die saligheid(Hebr. 10:26-31; Gal. 6:7,8; Rom. 8:12,13)

-  Christene se name kan uitgevee word uit die boek van die lewe(Openb. 3:5,6)

- Daar moet onderskei word tussen "opsetlike, aanhoudende sondes" en "daadsondes wat gedurig bely word" - die skrif is duidelik dat die uiteinde van opsetlik, aanhoudende sondes, "die dood" is.(1 Joh. 2:15-17; Hebr. 10:26,27; Ef. 5:5-7; Rom. 8:12,13; 1 Kor. 10:1-12; Fil. 3:18,19; Gal. 4:8-11)(Heb 10:25-28)  Want as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie,  maar ‘n verskriklike verwagting van oordeel en ‘n vuurgloed wat die teëstanders sal verteer.  As iemand die wet van Moses verwerp het, sterf hy sonder ontferming op die getuienis van twee of drie;


(Gal 6:7)  Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai.
Openb 3:5)  Wie oorwin, sal beklee word met wit klere, en Ek sal sy naam nooit uitwis uit die boek van die lewe nie, en Ek sal sy naam bely voor my Vader en voor sy engele.
(Openb 3:11)  Kyk, Ek kom gou! Hou vas wat jy het, sodat niemand jou kroon kan neem nie.
(Openb 2:11)  Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. Die wat oorwin, sal deur die tweede dood geen skade ly nie.
(1Jn 2:17)  En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.
(Ef 5:5-7)  Want dit moet julle weet dat geen hoereerder of onreine of gierigaard, wat ‘n afgodedienaar is, ‘n erfdeel het in die koninkryk van Christus en van God nie.  Laat niemand julle met ydel woorde verlei nie, want daardeur kom die toorn van God oor die kinders van die ongehoorsaamheid.  Wees dan nie hulle deelgenote nie.
(Rom 8:12,13)  Daarom dan, broeders, is ons skuldenaars, nie aan die vlees om na die vlees te lewe nie;  want as julle na die vlees lewe, sal julle sterwe, maar as julle deur die Gees die werke van die liggaam doodmaak, sal julle lewe.
(1Kor 10:12)  Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.
(Openb 2:4,5)  Maar Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het. Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie.
-------------------------------------------------------------------------------

Opsomming:

Tussen die twee sienings, dra altwee se sieninge heelwat krag en die oplossing is nie noodwendig dat een reg is en een verkeerd is nie, maar eerder dat die sienings mekaar aanvul, bv. Joh. 6:66 is 'n goeie voorbeeld. In die gedeelte sien ons dat  'n klomp dissipels Jesus verlaat.  Wanneer ons die skrif in konteks lees, dan spreek dit nie van mense wat heeltemal alvallig geraak nie, maar eerder van mense wat in die eerste plek nie regtig geglo het nie!  Dus, soos die eerste groep se stelling, is daar BAIE MENSE WAT VOORGEE HULLE IS CHRISTENE, MAAR  INDERDAAD NIE IS NIE EN HULLE VRUG BEWYS DIT, maar ons moet ook die hele Bybel in konteks neem, nie net een skrifgedeelte nie, en saamstem met die tweede groep wat die stelling maak dat DAAR  DIESULKES IS WAT REGTIG TOT BEKERING KOM, MAAR AFVALLIG RAAK EN DIE GEVAAR LOOP DAT HULLE AFGESNY KAN WORD - sien verse.

 Net so kan met sekerheid gesê word dat die ware kind van God absoluut versekerd kan wees van saligheid, maar dan moet ander skrifte wat duidelik weergee dat mense hulle saligheid kan verloor, sou hulle dit nie oppas nie, ook in aanmerking geneem word.  Die een is nie verkeerd en die een reg nie, maar altwee is reg - ONS KAN SEKER WEES VAN ONS SALIGHEID, MAAR ONS KAN DIT VERLOOR AS ONS DIT NIE OPPAS NIE - sien skrifte.

Dat saligheid nooit verkry kan word deur "werke" nie en dat vrug 'n bewys is van die wat regtig tot geloof gekom het, is duidelik uit die skrif;  tog is daar Christene wat in aanhoudend opsetlike sonde stap, maar  werklik die Here eens as eerste liefde geken het, dus verwys dit na die wat van die geloof afvallig raak of geraak het.  Paulus bemoedig ons om diesulkes te vermaan tot hoop dat so iemand terugkom op die pad, maar dit is duidelik uit die skrif dat sou iemand hom nie bekeer nie, die Here "sy kandelaar kan verwyder".  Die uiteinde van die sonde is die dood, dus die verskil tussen opsetlik aanhoudende sonde en daadsondes wat opregtelik bely word en afgelê word.

Alhoewel ons deur genade die ewige lewe verniet verkry het, beteken dit nie dat God dit nie sal wegneem as ons van die geloof afvallig raak nie (soos party mense glo dat God nie 'n geskenk sal terugneem nie).  Die briewe deur Jesus aan die gemeentes in Openbaring, is genoeg bewys van hoe die Here daaroor voel - Hy sal 'n geskenk terugneem as iemand Hom as sy eerste Liefde verlaat (dit praat dus van iemand wat die Here op 'n stadium as Eerste Liefde geken het, maar nie meer nie - dus,  iemand wat gelowig geword het, maar afvallig geraak het).








No comments: